MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-tuinbouklub se algemene jaarvergadering is gehou op die 14 Februarie by die Santos Express Treinrestaurant met sy prag uitsig op die see. Debbie en haar span het die dek getooi in wit en rooi ter viering van Valentynsdag.
Linda Klein het die lede terugverwelkom na die lekker lang somervakansie. Mimmi Butler het voorgelees oor 2019 se boom van die jaar, die sclerocarya birrea of maroelaboom.
Die kom natuurlik voor in die Noorde van Suid-Afrika. Mimmi het voorgestel dat iemand een in die Mosselbaai-omgewing plant en kyk of dit oorleef. Jean Blume van Ever-Grow was die gasspreker en het die lede ingelig oor hoe om tuin te maak in sanderige grond en kusomstandighede, soos in Mosselbaai.
'n Paar interessante feite wat hy uitgelig het is dat kompos geregistreer moet word, maar dat potgrond geen registrasie benodig nie. Vandaar die verskil in prys en kwaliteit. In sanderige kusgrond is dit beter om organiese as chemiese kunsmis te gebruik, want organies is gewoonlik in poeiervorm wat stadiger oplos. Chemiese kompos loog uit sodra dit natgemaak word.
Jean het lede gemaan om altyd die aanwysings op die verpakking te lees, want sekere gifstowwe word sistemies opgeneem en dan mag die vrugte van die plante vir 'n tydperk nie geëet word nie.
"Maak ook seker van die insek wat jy wil behandel voordat jy produkte gebruik," waarsku Jean.
Lede het gevra oor die uintjies wat nou tuine oorneem. Jean se raad is dat die uintjie van suurgrond hou en dat dit 'n aanduiding is dat die grond suur is. Hy het voorgestel dat landboukalk gestrooi word. Jean het die lede gemaan om die landboukalk omsigtig toe te dien, veral as die omliggende plante van suurgrond hou. Vrae is gevra oor witvlieg wat veral tans in groentetuine baljaar.
Jean het voorgestel dat diegene wat met hierdie plaag sukkel, die witvlieg se broeisiklus van 21 – 27 dae moet breek. Dit kan gedoen word deur die aanbevole spuitstof te gebruik.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'