Die Stoops het ses jaar gelede vanaf Durban na Glentana verhuis. Ten spyte van die verskil in klimaat het Sussan beslis 'n aanvoeling vir watter plante in hierdie streek aard, aangesien haar tuin in net meer as drie jaar in 'n lushof omskep is, waar haar voorliefde vir bromelias duidelik sigbaar is.
Die tuin is in verskillende kamers ingedeel met rose, klippe, aalwyne, gasterias, takbokvarings en die 133 verskillende soorte bromelias.
Sussan het onderhoudend gesels oor bromelias, 'n inheemse plant bekend aan die tropiese dele van Wes-Amerika, waarvan daar ongeveer 3000 verskillende spesies bestaan. Alhoewel min mense die naam 'bromelia' ken, ken almal 'n pynappel wat 'n voorbeeld van dié plantsoort is.
Die plant het se harde, wasagtige blare is in 'n rosetvorm en gee dit 'n bekervoorkoms waarin reënwater opgevang en behou word, wat oorlewing tydens droogtes moontlik maak.
Die kleur van blare wissel van groen, rooi tot pienk en silwer. 'n Groot persentasie van hierdie plante heg hulself aan ander plante en het dus nie grond nodig om te oorleef nie.
Bromelias hou van vol son, maar floreer ook in semi-skadu en moet geplant word in los grond met baie kompos en bas wat lekker dreineer.
Peste wat die bromelias aanval is slakke, springkane en dopluise, maar gif is skadelik vir hierdie plante.
Na die interessante praatjie het lede deur die pragtige tuin gestap en Sussan meer vertel oor elke deel van die tuin.
Kitty Lodewyks het die plant van die maand, buddleja auriculata of treursalie, wat uitgeloot is, gewen. Prystrekkings is gewen deur Linda Klein, Matilda Drake en Charmaine Brown.
Die klub se volgende vergadering is by Glenwood Lodge in George, op 7 Junie om 09:30 en die spreker is die dinamiese Stefan Hattingh, dosent aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, voorheen Saasveld.
Sy praatjie handel oor uile, voëls, goggas en algemene dierelewe in die tuin.
Vir verdere besonderhede, kontak Linda 044 6950712 of Thora 044 6982072.

Charmaine Brown (links) oorhandig ‘n geskenk aan gasvrou Sussan Stoop, wie se pragtuin deur die Tuinbouklub besoek is.