MOSSELBAAI NUUS - Tuberkulose (TB) is in verskeie lande steeds 'n epidemiese siekte. Op 24 Maart is Wêreldtuberkulose-dag gevier om bewustheid van dié siekte te skep en pogings te verskerp om die wêreldwye TB-epidemie te beëindig.
Die D'Almeida-kliniek op Mosselbaai het 'n bewusmakingsdag by die kliniek gehou.
Volgens Medihelp het die getal TB-sterftes in Afrika sedert die uitbreek van Covid-19 vir die eerste keer in meer as 'n dekade die hoogte ingeskiet weens die ontwrigting van gesondheidsdienste as gevolg van die pandemie.
Suid-Afrika het die vyfde hoogste TB-voorkomssyfer wêreldwyd, en hierdie siekte is een van die vernaamste oorsake van sterftes in die land.
TB is geneesbaar
Die goeie nuus is dat TB geneesbaar is, maar dit verg dissipline van die pasiënt om die TB-behandeling vir die gepaste tyd nougeset te volg.
Die behandelingskursus kan tussen ses maande en tot twee jaar duur om die volle genesing te bereik.
Onderburgemeester, raadsheer Cliffie Bayman het tydens 'n toespraak by die kliniek gesê die Mosselbaai-munisipaliteit ondersteun die bewusmaking om die verspreiding van TB te voorkom.
"Bewustheid is van groot belang, en dit is die rede waarom ons inisiatiewe het om inwoners in te lig oor die voorkoms van die siekte in ons gemeenskappe."
Wat is TB?
TB word veroorsaak deur 'n kiem wat die longe aanval en beskadig. Dit kan maklik aan ander oorgedra word deur 'n hoes of nies. Ongeveer 450 000 mense ontwikkel die siekte elke jaar, en 270 000 van hulle leef ook met HIV.
TB is Suid-Afrika se grootste oorsaak van dood. Sowat 89 000 mense sterf jaarliks daaraan; dit is 10 mense elke uur.
TB kan op enige ouderdom voorkom, in enige persoon en in ryk en arm gemeenskappe, die siekte diskrimineer nie. Dit word gesien by pasgeborenes wat TB van hul siek ma's opgedoen het, of by ouer kinders of volwassenes.
Gratis toetse
"As jy vermoed dat jy dalk aan die siekte ly, kan jy gratis toetse by jou naaste kliniek laat doen. Toetsing vir volwassenes word gedoen deur twee sputummonsters te neem en die resultate is gewoonlik na twee tot drie dae beskikbaar. Toetsing vir kinders word gedoen met behulp van veltoetse en borskas X-strale," sê Bayman.
Die apteker by D'Almeida, Dewald Kapp sê dit is van kritiese belang dat pasiënte moet terugkeer na die kliniek om hul resultate te kry sodat met die behandeling begin kan word.
TB-behandeling is gratis by Mosselbaai se plaaslike klinieke.
Kapp sê dit is belangrik om te onthou dat TB slegs genees kan word mits die volle behandelingskursus gevolg word.
Verskeie gesondheidswerkers en inwoners het bewusmaking van tuberkulose geskep.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'