MOSSELBAAI NUUS - Deel van Mosselbaai se trotse erfenis is die All Saints-kerkbrigade. Dit is een van die redes waarom waarnemende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé as deel van die Mossel Bay Cares-projek by die brigade gaan inloer het.
Charlie Hendricks het op agtjarige ouderdom as 'n Tarka-kind 'n lewensveranderende besluit geneem om by die All Saints-kerkbrigade aan te sluit.
Nie net is hy vandag een van die langsdienende lede nie, maar hy het ook sy eggenote, Madge, deur die groep ontmoet.
Die Hendricks-egpaar het hegte familiebande met die groep. Madge se ma was een van die stigterslede van die girl's brigade vir meisies.
Die brigade vier vanjaar hulle 100ste bestaansjaar. Daarom het Kotzé gaan besoek afgelê om sy dank uit te spreek teenoor die groep vir hul positiewe bydrae tot die opheffing van die jeug.
Hendricks vertel van die positiewe lewenswaardes, soos selfrespek, selfdissipline en 'n omgee-ingesteldheid wat sy deelname aan die brigade by hom ingeskerp het. Boonop spreek 'n ou voorbladfoto van die trotse oomblik toe hy in die sestigerjare as die beste trommelmajoor aangewys is. Die Mossel Bay Advertiser het destyds berig toe Charlie en Madge Hendricks deur die plaaslike ATKV Langsoustak as erfenishelde bekroon is.
Kotzé het onder meer vir Peter Mintoor, Angus Frans, die kaptein van die Brigade, ook ontmoet. Frans en ander volwasse lede getuig van die positiewe invloed van die brigades op hul jongmens- en latere lewens gehad het.
In eie reg is hulle nou die rolmodelle vir die jongeres. Buiten sy musiek, het Mintoor sy Protea-kleure in blackball pool verwerf, maar is ook tevore as SA kampioen gekroon en het silwer verower in die Blackball World Championships in Skotland. Hy het hom as musikant tydens sy weermagloopbaan onderskei en het ook by parlementsopeninge opgetree.
Frans sê die brigade het 'n positiewe invloed op die jongmense wat by hulle aansluit. Daarom nooi hy die jongklomp om betrokke te raak en voordeel te trek uit die geleenthede wat vir hulle geskep word.
"Om brûe te bou en effektiewe vennootskappe te vestig is een van my doelstellings as waarnemende burgemeester. Dit strook met die raad se missie wat samewerking tussen sektore insluit in die proses van morele herlewing," meen Kotzé.
Hy het die jongmense wat tans by die brigade betrokke is vir hul toewyding ondanks die uitdagings bedank. "Dit kan maklik ontmoedigend wees wanneer daar nie vir elke deelnemer 'n eie instrument is nie, maar dit is wanneer 'n mens se karakter na vore kom, wanneer opgee nie 'n opsie is nie, want die kans is steeds daar om deel van die groep te bly.
"Ek doen 'n beroep op ons samelewing om uit te reik na die brigades wat 'n behoefte aan koperblaasinstrumente en ander musiek-instrumente het - hetsy deur u ou instrumente te skenk, 'n bydrae vir nuwe instrumente, of vir die herstel en restourasie van bestaande instrumente te maak. Dit is in die belang van die kultuur-erfenis van Mosselbaai dat ons die onderskeie brigades ondersteun."
Die All Saints-brigade vier hulle 100-jarige bestaansjaar en het onlangs vir waarnemende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé (middel) van hulle erfenis vertel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'