MOSSELBAAI NUUS - Die konstruksie-maatskappy, Henra het Vrydagnag, 17 Maart, met die demolisieproses begin om die treinbrug wat oor Garretstraat loop, af te breek.
Garretstraat word breër gemaak om verkeersvloei te verbeter vanaf die R102 na Bayview. Volgens Robbie Searl, die kontrakbestuurder vir Henra op die Louis Fourie-opgradering, word die hele brug afgebreek en 'n nuwe een gebou wat amper 12 meter breed gaan wees, sodat twee-rigting verkeer daar kan deurgaan. Die brug moet voltooi wees voor die vakansieseisoen in Desember.
Searl sê: "Die demolisiewerk word in die nag gedoen, omdat dit net te beknop en gevaarlik is om dit in die dag te doen met die verkeer wat daar deurgaan. Dit is egter nie elke aand nie, net tot die sy- en kantmure afgebreek is."
Hannelie Marais van Bayview Buurtwag sê mense van die gemeenskap is beïndruk met die vinnige en veilige werk wat deur die konstruksie-maatskappy gedoen word.
"Ons is baie dankbaar om in 'n dorp te bly waar die munisipaliteit terugploeg in die gemeenskap en dinge ordelik gedoen word."
Laaigrawe was deur die nag besig om die betonbrug af te breek.
Foto's: Bayview Buurtwag
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’