MOSSELBAAI NUUS - Die Da Gamaskop-polisie versoek die gemeenskap om hulle van inligting te verskaf aangaande 'n voorval waartydens twee voetgangers gedurende die Paasnaweek in Ruiterbos doodgery is.
Die voorval het Saterdagaand, 31 Maart vermoedelik tussen 21:00-21:10 plaasgevind.
Volgens inligting verskaf deur die polisie het die voetgangers op die R328 gestap toe die voorval plaasgevind het. Hulle was glo onderweg vanaf 'n kuierplek terug huis toe. 'n Vrou wat in die omgewing werk het kort na die voorval op die oorledenes, Lee-Anne Arendse (27) en Jason Pietersen (23) se liggame afgekom waar hulle in die middel van die pad gelê het. Die paartjie het 'n baba wat tans wees gelaat is.
Die bestuurder van die voertuig wat die voetgangers getref het, het glo nie op die toneel gestop nie. Ooggetuies het egter 'n blou voertuig in die omgewing gewaar ten tye van die voorval. Enige persoon met inligting aangaande die voorval word versoek om die ondersoekbeampte, ao A Stokes te kontak (044 606 2213).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'