Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - "Ons is dit aan onse kinders en onse families verskuldig om betrokke te raak by die stryd teen misdaad." Hierdie sentiment is herhaaldelik geopper tydens 'n gemeenskapsvergadering op Donderdag, 18 Oktober waar inwoners van veral Wyke 9 en 13, asook Albert Luthuli en Highway Park hul kommer gelug het oor die toename in veral dwelmmisbruik en verwante misdade, nie net in hul areas nie, maar in die groter Mosselbaai.
Die sameroeper van die vergadering, Jerome Meyer, het van die gemeenskap 'n mandaat ontvang om 'n optog teen misdaad en misdadigheid vir November te reël.
'n Opvolgvergadering met rolspelers, onder meer die departemente van justisie, korrektiewe dienste, polisie, maatskaplike dienste en verteenwoordigers van die onderskeie gemeenskapspolisiëringsforums en buurtwagte sal op Donderdag, 25 Oktober plaasvind en die gemeenskap sal nader aan die tyd oor die venue vir die vergadering ingelig word.
"Ouers - ons - moet meer betrokke raak by ons kinders. Waar is die dae wat kinders nog respek vir ouer mense gehad het? Ons moet mos kan sien as ons kinders by verkeerde goed of verkeerde vriende betrokke raak? Dis onse plig om dan op te tree," het 'n spreker sy mening gelug.
Die gemeenskap het 'n beroep op die polisie gedoen om meer sigbaar in die areas te wees. "Ons weet waar die huise is waar gesteelde goed gesmous word, óns weet waar word met dwelms gesmous. Vat ons hande en slaan toe op daardie plekke," was een van die versoeke.
Daar is ook 'n beroep op inwoners gedoen om alle voorvalle van misdaad waaraan hulle blootgestel word, by die polisie aan te meld sodat behoorlike statistieke die werklike situasie in die gemeenskappe kan weergee.
Kyk 'n video hieronder:
Die vergadering is bygewoon onder meer deur 'n verteenwoordigende groep offisiere van die Da Gamaskop-polisiestasie, verskeie gemeenskapspolisiëringsforums en buurtwaglede. 'n Indringende beroep is op die gemeenskap gedoen om by hierdie strukture betrokke te raak sodat die polisie se hand op georganiseerde wyse in die stryd teen misdaad gesterk kan word.
Raadslid Rosina Ruiters het inwoners gevra om enige vorm van misdadigheid by die polisie aan te meld sodat amptelike statistieke die werklikheid van misdadigheid in die omgewing kan weergee.
Die gemeenskap het sterk standpunt ingeneem teen die toename in veral dwelmverwante misdaad in wyke 9 en 11, Albert Luthuli en Highway Park.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'