MOSSELBAAI NUUS - Kerkstraat se hawelose, Elmar Joseph (60) is op Vrydagaand, 25 Februarie doodgery.
Joseph was 'n bekende gesig op Mosselbaai en het veral in Kerkstraat vertoef. Hy was ook glo bekend as Kierietjies of Tiekie.
Die omstandighede van die voorval word ondersoek en 'n voorlopige ondersoek dui daarop dat Joseph om ongeveer 21:35 in Kerkstraat doodgery is.
Die polisie op Mosselbaai ondersoek 'n saak van strafbare mansslag.
'n Vrou en 'n man het in die voertuig gery wat Joseph getref het. Die vrou het bestuur en Joseph is op die toneel dood verklaar.
Volgens Joseph se seun, Ryan Erasmus (42) was dit sy pa se keuse om haweloos te wees.
Ryan woon op Groot-Brakrivier en sê hy het sy pa eers ontmoet toe hy 20 jaar oud was.
Joseph en Ryan se ma het beide skool gegaan op Mosselbaai en Joseph het glo kort na Ryan se geboorte na Kaapstad verhuis.
Hy het onder meer by Spoornet gewerk voordat hy bykans 30 jaar gelede weer terug na Mosselbaai gekeer het.
"Ons familie het gereeld na my pa uitgereik, maar hy wou nie by ons kom bly nie. Dit was sy keuse om op straat te leef. Ekself het verskeie kere na hom uitgereik maar hy het verkies om op sy eie te bly."
Ryan sê hy het gereeld met sy pa kontak gemaak en het hom ook altyd besoek wanneer hy op Mosselbaai was.
"Ons het nie 'n keuse gehad as om te aanvaar dat dit die lewenstyl was wat my pa verkies het nie. Ons is baie hartseer oor die wyse waarop hy dood is," sê Ryan.
Joseph word op Saterdag, 5 Maart vanuit 'n kerk by D'Almeida op Mosselbaai begrawe.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'