MOSSELBAAI NUUS - 'n Inwoner van Brunsweg in Mosselbaai is uit die hospitaal ontslaan nadat hy op Donderdag, 11 Oktober in sy huis aangeval is.
Guy Barker (59) het ernstige beserings aan sy kop en ribbes opgedoen.
Die gemeenskap is geskok oor die voorval, wat tussen 13:00 en 15:00 gebeur het. Boonop het die verdagte toegang tot die woning verkry deur 'n sekuriteitshek voor 'n deur oop te buig.
Polisiewoordvoerder, ao Pieter Koekemoer sê Barker het 'n geraas gehoor waarna hy die verdagte in die huis betrap het.
Volgens ao Koekemoer het die verdagte Barker met 'n stuk hout aangeval. Hy het sy bewussyn verloor en is weer aangerand toe hy sy bewussyn herwin het.
Die verdagte het gevlug met 'n tabletrekenaar, selfoon en skootrekenaar. Barker kon daarin slaag om hulp te ontbied.
Adjudant-offisier Koekemoer sê die mate van geweld wat tydens die voorval gebruik is, is kommerwekkend. Intussen het die voorsitter van die plaaslike buurtwag, Leon van Dyk bevestig dat daar in slegs sewe dae, ses huisbrake in die Bo-dorpgebied gepleeg is.
"Vier van die huisbrake is aan die polisie op Mosselbaai gerapporteer."
Die waarnemende stasiebevelvoerder van die Mosselbaai-polisiestasie kapt Seppie September het sy kommer oor die toename in misdaad uitgespreek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'