MOSSELBAAI NUUS - Jordin Naude, 'n 10-jarige leerder van Erika Primêre Skool is nie sommer 'n hierjy nie. Die jong aktrise was in September op die rooitapyt by die première van Fiela se Kind in Johannesburg.
Jordin het in verlede jaar die laatwinterkoue van die Kamanassie trotseer om deel te neem aan die verfilming van Fiela se Kind.
Haar pa, Ashwell vertel dat haar liefde vir optree en toneelspeel by die kerk ontstaan het. Toe die familie hoor dat daar plaaslik na akteurs gesoek word om rolle in Fiela se Kind te vertolk, het hulle nie gras onder hulle voete laat groei nie.
Jordin het die rol van Emma Komoetie junior in die onlangs vrygestelde weergawe van die fliek vertolk. Pa Ashwell het saam met haar vir twee weke in Uniondale gaan bly tydens verfilming. Party oggende was die berge in die omgewing glo spierwit van die sneeu wanneer die twee moes opstaan om op stel te wees. "Ons het 04:30 opgestaan om dan 07:00 op stel te wees. Saans het ons tot sesuur soms later nog geskiet," vertel Ashwell.
Jordin sê sy het dit geniet om met haar "boetie en sussie" te speel. Ashwell vertel dat daar so 'n hegte band tussen die akteurs onstaan het, dat hulle sedertdien steeds gereelde kontak het, ook met die hoofkarakter, Zenobia Kloppers wat die rol van Fiela vertolk.
'n Hoogtepunt was beslis die bywoning van die première in The Zone, Rosebank verlede maand. "Die reis was vir ons eie rekening, maar ons het net gedink, dis 'n geleentheid een maal in 'n leeftyd," sê Ashwell.
En wat wil Jordin word as sy eendag groot is? "'n Dokter en 'n aktrise."
Wie weet dalk sien Mosselbaaiers dié klein patroon eendag in Binnelanders of dalk selfs in die befaamde Grey's Anatomy.
Jordin Naude (voor, tweede van regs) saam met haar mede-akteurs in Fiela se Kind. Links van haar is Zenobia Kloppers wat die titelrol vertolk.
Jordin Naude, soos 'n wafferse filmster op die rooi tapyt saam met ouers, Ashwell en Leverne.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'