MOSSELBAAI NUUS - "Oom Ernest is 'n besonderse mens."
Só word Ernest Clark in sy Ons Mens-nominasie beskryf. Die persoon wat hom genomineer het sê dis vir Clark se hart vir mense, sy hart vir wat hy doen, sy opregtheid, en sy kennis wat hy graag deel.
Jy kan vir hom enigiets vat wat iets met leer te doen het, en hy sal 'n wonderwerk bewerk.
En buiten sy leerwerkvaardighede is hy ryk met mensekennis en -ervaring. Hy word op 1 November 80 jaar oud, en hy is nog elke dag op sy plek - Saterdae ingesluit!
Vertel ons 'n bietjie van jouself – wie is jy en wat doen jy?
Ek staan bekend as Ernest Clark. Meeste mense noem my Ernie. Ek is afgetree, maar werk voltyds in my leer-en-materiaal-winkel bekend as Bushveld Crafts in The Town's House in Markstraat, Mosselbaai.
Hoe lank woon jy al in die Mosselbaai-omgewing?
Bykans 30 jaar.
Wat is jou gunstelingding van Mosselbaai?
Die omgewing en die mense.
Wat is iets van jou wat mense dalk nie weet nie?
Alhoewel ek soms nors voorkom, het ek eintlik 'n baie sagte hart en wil alle mense gelukkig sien.
Wie of wat het die grootste invloed op jou lewe gehad?
My ouers.
Waarop is jy die trotsste in jou lewe?
My vrou, kinders, kleinkinders en agterkleinkind. Ek wou ook altyd leer vlieg - dit het ek deur harde werk bereik.
Wat is iets wat jy nog graag wil bereik of doen?
Om so te leef dat ander mense Jesus in my kan sien en dat ek die verlossingsboodskap aan hulle kan oordra.
As jy enige persoon vir koffie kon nooi, wie sou dit wees en hoekom?
Enige persoon wat my met respek behandel en my aanvaar vir wie ek is, omdat ek alle mense gelykwaardig sien en behandel afgesien van hulle ras of status in die lewe.
Wat is een ding wat jy graag vir die mense van Mosselbaai wil sê?
Mede-inwoners, ons is so bevoorreg om in hierdie pragtige dorp te kan woon.
Nomineer ons volgende ‘Ons Mens’
Wil jy iemand vir hierdie weeklikse rubriek nomineer? Dit kan enigiemand in die Mosselbaai-omgewing wees wat volgens jou 'n positiewe verskil in ons gemeenskap maak.
Stuur jou nominasie na [email protected] of WhatsApp dit na 072 599 8533. Sluit asseblief die volgende in: die naam van die persoon wat jy nomineer; die rede vir jou nominasie; jou kontakbesonderhede; en die genomineerde se kontakbesonderhede.
Wie weet - dalk is jou plaaslike held ons volgende Ons Mens!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’