Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Met Jeugmaand op almal se lippe, is dit net logies dat tieners deel van die gesprek sal word. Caritas Care Centre, 'n organisasie wat spesialiseer in pastorale narratiewe terapie, het op Saterdag, 5 Junie 'n werksessie aangebied met die oog daarop om kursusgangers te help om sterker menseverhoudings te bou.
Stefanie Minnaar, pastorale terapeut verbonde aan Caritas en wat spesialiseer in die ouer-tienerverhouding, was een van die aanbieders.
Die Mossel Bay Advertiser het by Stefanie gaan kers opsteek oor tieners wat dikwels as 'n ander "spesie" beskou word.
Tieners in konteks
"Net soos die natuur verseker dat die skerkste gene onder byvoorbeeld die leeuspesie bly voortbestaan deurdat die mannetjiesleeu op 'n bepaalde tyd sy trop verlaat en met ‘n leeuwyfie van ‘n ander trop gaan paar, werk dit by mense ook. Die Here verseker dat die sterkste gene in die menslike spesie bly voortbestaan deur die tiener se brein so te laat verander op 12 tot 13 jaar, dat hul van hulle ouers begin wegbeweeg."
In die proses, verduidelik Stefanie, ontwikkel die tiener sy of haar eie identiteit en begin hulle dinge op hul eie manier doen.
Kyk 'n video hieronder:
"Daar is 'n intense behoefte om saam met vriende te kuier. Dit alles berei die tiener voor om op 19 jaar die huis te verlaat, later iemand van ‘n ander familie te ontmoet, hopelik te trou en kinders van hul eie te kry."
Stefanie se dat hierdie "intense behoefte" van veral hoërskoolkinders om saam met vriende te kuier, noodsaaklik is om die tiener se portuurgroep, die mense is saam met wie kinders uiteindelik hulle nuwe lewe na skool gaan aandurf.
"Tieners is perfek ontwerp om te doen wat hulle moet doen, wanneer dit moet doen sodat hulle in gesonde, funksionele volwassenes kan groei. Maar ongelukkig en ontwetend werk baie ouers téén hierdie natuurlike ontwikkeling by die tieners.
"In plaas daarvan om die tieners aan te moedig om te groei en onafhanklik te raak in die veilige mure van ons huis, oorbeskerm ons ons tieners deur dit vir hul so gemaklik as moontlik te maak, want dit is wat goeie ouers mos doen."
Stefanie brei uit dat die verandering in die tiener se brein ‘n verskriklike groot invloed op sy of haar optrede en verhoudings het.
"Die ouer-tiener-verhoudings kry baie seer omdat ouers tieners dikwels bloot as rebels en disrespekvol beleef. Die kenners sê nie verniet die verhouding tussen ouers en tieners, meer gaan oor die manier waarop ouers reageer, as op die tiener se optrede self nie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'