MOSSELBAAI NUUS - Die Christmas in July-fondsinsamelingsfunksie vir The Haven-nagskuiling se vensterprojek was besonder suksesvol in terme van gemeenskapsondersteuning, bywoning en betrokkenheid, sê die organisasie se voorsitter, Frikkie Smuts.
Volgens Smuts het 110 gaste die aand by die NG Mosselbaai Moedergemeente bygewoon en 'n gesellige en warm atmosfeer geniet.
Die gasvroue, bestaande uit die komiteelede en hul vriende, het die tafels opgemaak, elk met sy eie tema in feestelike styl.
Die gaste het aan 'n heerlike driegangmaaltyd gesmul, en op die vermaakfront het die plaaslike koor, Sotto Voce, met hul optrede spesiaal by die Kerstema aangesluit, wat die gehoor diep geraak het.
Die Sotto Voce-koor se leier, Johan Engelbrecht.
"Burgemeester Dirk Kotzé was die gasspreker van die aand en het tydens sy toespraak klem gelê op die belangrikheid van die rol wat The Haven speel rakende die bestuur van haweloosheid in die Mosselbaai-gemeenskap," sê Smuts.
Burgemeester Dirk Kotzé spreek gaste by die geleentheid toe.
Die bestuur en komitee se doel met hierdie geleentheid was om fondse in te samel om die Haven-gebou se houtraamvensters, wat Smuts sê in 'n uiters swak en gevaarlike toestand is, met aluminiumvensters te vervang.
"Die bestuur het met hierdie byeenkoms gepoog om die beeld van The Haven uit te bou, asook die gemeenskap in te lig rakende die werking van The Haven. Ons missie is om te verseker dat niemand op straat sonder kos of slaapplek moet leef nie. Maatskaplike dienste word tydens die kliënte se verblyf aangebied ten einde hulle te herintegreer met hul families, asook om kliënte behulpsaam te wees met 'n verskeidenheid van dienste, onder meer werk soek, gesondheidsuitdagings, ensovoorts.
"Ons moedig die gemeenskap aan om die vensterprojek finansieel te ondersteun met 'n bydrae van R1 500, R3 000 of R 6 000. Hierdie bedrae is gebaseer op die drie verskillende groottes vensters wat vervang moet word. Uit die aard van die saak sal enige finansiële bydrae, hoe gering ook al, verwelkom word," sê Smuts.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’