GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Kindersorg Groot-Brakrivier (CWSA Groot-Brak) het onlangs 'n plasing op sy Facebook-blad gedeel waarin die organisasie die nood vir 'n geskikte huis of pleegouers vir vier broers uitgelig het.
Hierdie broers, sê CWSA, kom uit 'n gemeenskap waar verskeie sosiale euwels en nalatigheid 'n groot rol speel.
"Ongelukkig is hul omstandighede nie uniek nie, maar eerder verteenwoordigend van die uitdagings wat baie kinders in die gemeenskap daagliks ervaar."
CWSA funksioneer as 'n kinderbeskermingsorganisasie met die primêre doel om kinders te beskerm wat in ongunstige en skadelike omstandighede leef. Hierdie kinders word dikwels blootgestel aan situasies wat hul fisiese, emosionele en sielkundige welstand benadeel.
'n Groot uitdaging vir die organisasie is om geskikte huise of families vir hierdie kinders te vind.
Aangesien dit in die beste belang van die kind is om in 'n bekende omgewing te bly, word familielede altyd eerste genader, maar dit is nie in elke geval moontlik nie.
"Die verwydering van kinders uit hul ouerhuise is 'n traumatiese ervaring, ongeag die omstandighede. Ons doen 'n beroep op die publiek om as veiligheidsouers op te tree vir noodgevalplasings, wat gewoonlik vir 'n tydperk van drie maande is," sê die organisasie.
Verder is daar ook 'n groot behoefte aan pleegouers wat bereid is om kinders vir langer tydperke, tot twee jaar, in hul sorg te neem.
'n Pleegouer is 'n geskikte volwassene (18 of ouer) wat 'n veilige, stabiele en liefdevolle tuiste bied aan 'n kind wat nie tydelik by sy/haar biologiese ouers kan bly nie.
Alle plasings en verrigtinge geskied deur die Kinderhof, en CWSA Groot-Brak bied deurlopende ondersteuning aan beide kinders en ouers. Biologiese ouers ontvang hulpbronne en gaan deur ouerleidingprogramme om hul omstandighede te verbeter. Ten spyte hiervan is hereniging egter nie altyd moontlik nie, en bly kinders dikwels langer in pleegsorg.
CWSA sê lede van die publiek wat betrokke wil raak, is welkom om aansoek te doen om deel van hierdie ondersteuningsnetwerk te word.
"Alle voornemende ouers word egter deeglik gesif. Inwoners van Groot-Brak kan direk by CWSA Groot-Brak aanklop, terwyl persone van buite die dorp hul naaste welsynsorganisasie kan nader."
CWSA Groot-Brak is by Plot 255, Stasieweg, Groot-Brak, geleë. n Kontak die organisasie by 044 518 0974 of 072 027 3616 of stuur 'n e-pos aan [email protected].
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’