MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit se droom om 'n spekboom-doolhof te skep, is 'n stap nader daaraan om 'n werklikheid te word.
Die beplande spekboomdoolhof is deel van die Mosselbaai-munisipaliteit se vergroeningsplan.
Daar word beraam dat ongeveer 6 000 spekboomsteggies benodig word om die doolhof te vestig.
Byna twee jaar gelede het die munisipaliteit se parke-afdeling met erns begin spekboomsteggies insamel. Die projek het in 2023 'n verdere hupstoot gekry totdat Laerskool Park se nasionale diensleerders 'n verdere 600 steggies geskenk het.
Hierna is in September verlede jaar 'n verdere beroep op die gemeenskap gedoen om steggies te skenk. ’n Inwoner van Heiderand, waar die doolhof gevestig gaan word, het ook 1 000 steggies gegee.
Selfs 'n wynplaas uit die Calitzdorp-omgewing het tot die skenking bygedra. Hierna was die aantal spekboomsteggies teen die einde van 2023 sowat drieduisend.
Verlede week is, danksy 'n skenking van die departement van bosbou, visserye en omgewing, 'n verdere 3 000 spekboomsteggies geskenk wat die munisipaliteit by sy teiken van 6 000 steggies bring.
Die departement het ook aangedui dat hulle fondse gaan toewys om uitgebreide openbare werke program- oftewel EPWP-werkers vir byna 'n maand aan te stel wat behulpsaam sal wees met die plant van die steggies.
Die area wat geïdentifiseer is, is 'n groot openbare oop ruimte in 'n park in Heiderand. Dit is munisipale grond. Die besonderhede van die doolhof moet nog gespesifiseer word. Die presiese grootte kan nog nie bevestig word nie, maar dit kan tot 2 000 m² groot wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’