Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Daar is weer eens heerlik gekuier saam met wyksraadsele en die waarnemende burgemeester tydens die eerste van 'n reeks geleenthede om uit te reik na seniors en gemeenskappe in verskillende wyke in die groter Mosselbaai.
Die Speaker, Raadsheer Petru Terblanche se wyk was die eerste om die waarnemende burgemeester, raadslid Dirk Kotzé in hul midde te verwelkom, waarna hy die Danabaai-komponent van Wyk 11 by die Gannet Restaurant onthaal het.
In die afwesigheid van die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, het raadslid Kotzé die gemeenskappe bedank vir die goeie verhoudinge wat tussen die plaaslike owerheid en belastingbetalers bestaan.
Toe Raadsheer Harry Levendal aanvanklik as burgemeester vir Mosselbaai aangewys is, het hy belowe: "Gemeenskappe sal baie van my hoor en sien want ek wil meer met almal kommunikeer. Ek sal by alle gemeenskappe, by vergaderings en forums opdaag en betrokke wees."
Daar is toe besluit om saam, in 'n gees van versoening en samewerking die gewilde burgemeesterstee in al 14 die onderskeie wyke aan te bied.
Die Burgemeestersfonds word deels aangewend en 'n nuwe projek, getitel "Caring and Cohesion", is van stapel gestuur. In elke wyk word 'n bedrag beskikbaar gemaak om "reg te maak wat verkeerd is", aldus burgemeester Levendal. Nóg teepartyjies sal onder meer saam met seniors in KwaNonqaba, Hartenbos, Groot Brak, Joe Slovo, D'Almeida en Sonskynvallei plaasvind.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'