Die munisipale woordvoerder, mnr Harry Hill, berig in 'n persverklaring dat belanghebbende beheerliggame skriftelik ingelig is dat voertuie soos taxi’s en busse op 8, 9 en 10 April by die voertuigtoetssentrum in Mosselbaai gratis ondersoek kan word vir moontlike defekte.
Dié toetstydperk is nou verleng tot en met Dinsdag, 15 April.
Die projek het ten doel om te verseker dat voertuie wat passasiers vervoer teen Paasnaweek aan alle vereistes vir padwaardigheid voldoen.
Eienaars sal van ‘n lys van defekte, indien enige, voorsien word sodat die nodige herstelwerk gedoen kan word om hul voertuie betyds, voor die aanvang van die Paasnaweek, in orde te kry.
Gestempelde plakkertjies wat aandui of die voertuig getoets is of nie, sal op die geïnspekteerde voertuie aangebring word. Mosselbaai se Assistent Hoof: Gemeenskapswetstoepassing en Veiligheid, mnr David Machaba, het aan die Mossel Bay Advertiser die proses verduidelik. "Voertuie soos busse of minibus taxi's kry 'n rooi, gedateerde plakker op die voorruit wanneer hulle die toetsterrein betree. Indien die voertuig aan alle vereistes voldoen, word 'n groen plakker op die voorruit aangebring om aan verkeersbeamptes aan te dui dat die voertuig die toets geslaag het".
Provinsiale Verkeersbeampte en voertuigondersoeker, Sylvia de Beer, het benadruk dat alle fasette van padwaardigheid deeglik nagegaan word.
"Normaalweg beloop dit sowat R250 om die padwaardigheidstoetse af te lê, geld wat die eienaars nou liefs kan gebruik om herstelwerk, indien nodig, te doen. Dit is tot almal se voordeel as voertuie wat passasiers vervoer, behoorlik nagegaan en padwaardig gehou word. Wanneer 'n minibus-taxi breek of in 'n ongeluk betrokke raak omdat dit onpadwaardig was, word die passasiers en ander padverbruikers verontrief," aldus mnr Machaba.
Voertuigeienaars beskuldig verkeersowerhede soms van viktimisasie, maar hierdie projek die geleentheid bied hulle die geleentheid om hul voertuie in orde te kry. Streng optrede, insluitende die afhaal van die pad van voertuie wat nie voldoen nie, sal volg.
Volgens die persverklaring word dit beplan om die projek in die toekoms tydens sekere langnaweke en vakansietye, wanneer daar ekstra druk op paaie ervaar word, te herhaal.

Provinsiale Verkeersbeampte en voertuigondersoeker Sylvia de Beer gaan 'n minibus-taxi se bande vir padwaardigheid na. Die toetse vorm deel van die Mosselbaai Munisipaliteit en Provinsiale Verkeersdienste se projek om voor die Paasnaweek alle openbare vervoer vir padwaardigheid te toets.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'