MOSSELBAAI NUUS - Die mense wat jou die meeste van die geskiedkundige Tarka-woonbuurt kan vertel is vanselfprekend die gryses en die wyses.
Wat hierdie groepie egter besonders maak, is dat hulle graag hulle stories deel met die jonger geslag.
Tydens die Tarka Straatfees vanjaar, is die oues weer eens gehuldig vir die rol wat hulle in hierdie besonderse gemeenskappie speel, knus geleë teen die kop met die mooi uitsig van die baai wat omsoom word met die Outeniquaberge.
Saterdagoggend het 'n handjievol seniors voor die huis van raadslid Marilyn Kannemeyer byeengekom vir 'n smaaklike ontbyt en groot geselligheid.
Petronel Baard het musiek gemaak en 'n paar pragtige Kersliedere gesing. Kinders het in die straat uitgekom agter die klanke van haar klavier aan.
Nog een van Mosselbaai se geliefde seniors, die nimlike Aunt Ethel het op uitnodiging haar eweknieë by die ontbyt gaan besoek as gas.
Die ou dame het die oues lekker aan die lag gehad met haar pittighede oor Kersinkopies.
Raadslede Venolea Fortuin, Erica Meyer, Marilyn Kannemeyer asook die onderburgemeester Dirk Kotzé het bontgestaan om die oues te bedien en gemaklik te maak.
Toe 'n onverwagse reënbuitjie uitsak, was daar nie 'n klagte te hoor nie eerder opmerkings van hoe geseënd die dag was vanweë die paar druppels wat geval het.
Tydens sy spreek beurt het die onderburgemeester raadslid Dirk Kotzé hulde gebring aan sy eie grootouers wat ten spyte van 'n hoë ouderdom na mekaar en ook na nader omgesien het.
Raadslid Kotzé het ook gesê dat Tarka se gemeenskap geseënd is omdat hulle so toeganklik vir mekaar is.
Nie eens die ligte reëntjie kon die vrolikheid onder Tarka se seniors demp toe hulle Saterdagoggend tydens die Tarka Straatfees gekuier het.
"Dit werk nie so in alle gemeenskappe in Mosselbaai nie. Tarka se mense ken mekaar en is toeganklik vir mekaar. Almal se huise is oop vir mekaar.
"Hier is absolute interaksie." Hy het gesê dat die voorbeeld wat die seniors stel, baie belangrik is vir die vorming van die jonger geslag.
ARTIKEL & FOTO'S: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'