MOSSELBAAI NUUS - Die vyfde Tarka Straatfees begin vanaand en loop op Sondag, 16 Desember ten einde in die geskiedkundige woonbuurt met sy praguitsig oor die baai en die Outeniquaberge.
Feesorganiseerder James Malgas het vanjaar weer uit sy pad gegaan om die room van plaaslike talent te kombineer met nasionale talent ten einde puik vermaak aan die gemeenskap te bied.
Kyk uit vir kletsrymers, dansers, 'n orkeste-aand, straatkuns, asook die Tarka-kultuurpraatjie en -toer wat beslis die moeite werd is om mee te maak.
Die program sluit in Waseef Pikaan, Moenier Adams, Didi Didloff en Julian Wenn, Meli Grey, Herbie Micheals, Paul Amas, Precious Nkrumah, Die Wasgoedlyn met Riku Lätti en die Mark Tunes Band.
Een van die feeshoogtepunte is die optrede van Johny Magic the Magician met al sy toertjies. Plaaslike orkeste wat optree sluit in G- Minor, Perogatives, Ocean Breeze en Octave Five.
Die openingseremonie het gister Donderdag, 14 Desember plaasgevind. Dit was 'n kultuurpraatjie en die boekbekendstelling van Charles Theunissen se boek Kinders van Tarka en Elders.
Die boek bied 'n unieke historiese perspektief op Tarka.
Die Straatfees begin amptelik vanmiddag om 17:00 met 'n straatparade vanaf die D'Almeida-gemeenskapsaal tot by die Tarka-feesterrein.
Vir meer inligting oor die program, kontak James Malgas (079 901 8935) of ry gerus die Tarka-woonbuurt binne gedurende die naweek waar 'n klomp verrassings op alle feesgangers wag.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'