MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit se waarnemende burgemeester, Dirk Kotzé, het sy opregte dank en waardering uitgespreek teenoor die buurtwaggroep van Tarka en die twee sektorbevelvoerders van die Mosselbaai-polisiestasie wat stelselmatig besig is om misdaad in dié omgewing onder beheer te bring.
"Danksy die Tarka-buurtwag is daar onlangs weer toegeslaan op 'n bekende uithangplek en skuilplek vir misdadigers in Kanariestraat, 'n optrede wat onder meer tot arrestasie gelei het."
Die Mosselbaai-polisiestasie het die buurtwag bygestaan en ook tydens 'n onlangse operasies besondere deurbrake gemaak met optredes in Cuffstraat en by die Taxi-staanplekke waar erkende kriminele ook gereeld uithang.
"Die huis in Kanariestraat, wat in privaatbesit is, is 'n kopseer vir die gemeenskap. Regsprosesse is aan die gang om binne die raamwerk van die wet oplossings daarvoor te vind, maar die gemeenskap van Tarka en veral die Tarka-buurtwag se volgehoue voorkomingsoperasies maak die lewe vir die misdadigers wat daar skuil hou, al hoe moeiliker," sê Kotzé.
Volgens hom leef misdadigers binne die huis in Kanariestraat onhigiënies, hou gevaarlike honde as afskrikmiddel aan en is 'n algemene bedreiging vir die lewenskwaliteit van die omgewing.
"Dit is bekend dat die misdadigers nie mense van die Tarka-omgewing is nie, maar inwoners teiken deur met gevaarlike wapens rond te beweeg, by dwelmhandel betrokke te wees en allerlei ander misdade te pleeg," sê Kotzé.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'