MOSSELBAAI NUUS - Die Tarka-gemeenskapsfees vind komende Saterdag, 2 Desember, vir die eerste keer by die nuwe amfiteater in dié historiese woongebied in Mosselbaai plaas.
Verrigtinge begin om 10:00 en sal na verwagting strek tot omstreeks 21:00.
Die nuwe fasiliteit is die langverwagte droom van die gemeenskap en veral van die reëlingskomitee en sal na verwagting vinnig ontwikkel tot die hartklop van dié gemeenskap.
Die fees is bestem om elke inwoner, oud en jonk, asook besoekers te betrek met talle interessanthede, wat selfs tot nuwe tradisies kan lei.
Kaskarresies, soos van ouds, sal een van die feeshoogtepunte wees en spanne gaan in dié item eerstens hul eie kaskarre moet bou voordat hulle mekaar behoorlik in die resies die stryd sal kan aansê.
Daar is voorsiening vir gemeenskapsopvoeding, met onder meer vertonings deur die Mosselbaai brand, redding en rampbestuursdienste, asook die gewilde Daantjie Kat, wat die jongklomp oor die fynere vereistes van padveiligheid sal inlig.
Musiek
Geen fees is egter 'n fees sonder musiek nie. Deelnemers sal die kans kry om onder meer aan 'n Junior Idols-kompetisie deel te neem en daar sal interessante kompetisies, onder meer 'n Junior/Senior TikTok en die kroning van 'n Amphi Koningin wees.
Die groepsdeelname van verskeie sangitems en groepsangitems is egter van die groot trekpleisters en sal verrigtinge met 'n lekker ritme laat klop.
Moenie dié naweek die eerste van 'n wonderlike gemeenskapsgeleentheid en -fees misloop nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus.’