MOSSELBAAI NUUS - Gerda de Waal is op 18 Januarie 1919 in die distrik Sutherland gebore en het haar 100ste verjaarsdag verlede week saam met haar kinders, familie en vriende gevier.
Sy het haar kinderjare in Riebeek-Kasteel deurgebring en later jare in Oshakati gewoon. Sowat nege jaar gelede, het sy na Mosselbaai verhuis waar sy tot verlede jaar in Mei alleen in haar eie eenheid in die Protea-oord gewoon het. Sy het egter geval en haar bekkenbeen gebreek en die dokters wou nie opereer nie, vanweë haar ouderdom. Die bekken het skeef aangegroei en skoliose veroorsaak.
Afgesien daarvan, is sy positief en doen elke dag oefeninge en probeer loop as haar lyf dit toelaat. Haar wonderlike sin vir humor en grappies is sprekend van haar helder gedagtes ten spyte van die feit dat sy meestal bedlêend is. Sy woon tans by haar dogter Mareze en is steeds positief dat sy na haar eie huisie sal terugkeer.
Tannie Gerda se gesin bestaan uit ses kinders, waarvan slegs vier nog lewe. Sy het 11 kleinkinders en 10 agterkleinkinders. Haar liefde vir plante en tuinmaak kry gestalte in haar pragtige klein tuintjie in die oord. Sy was ook kranige naaldwerkster wat op 80 nog 'n trourok gemaak het.
Volgens haar oudste dogter Ona, kon mens haar ma altyd deur 'n ring trek. Attie haar seun, glo dat sy ma se hoë ouderdom toe te skryf is aan haar goeie sin vir humor. Hy onthou dat hulle 'n gesin was wat altyd baie gelag het ten spyte van omstandighede. Sy ma het twee jaar gelede met 'n vonkel in die oog, vertel dat sy ook twee keer getroud was en albei mans oorleef het.
Tannie Gerda het aangedring daarop dat sy bietjie grimering moet kry vir die fotosessie saam met haar seuns Kobus en Attie Kok en dogters Ona Brochetto en Mareze Kritzinger. Foto: Tersia Marais
Tannie Gerda het tóé met haar 98ste verjaarsdag, al die Mossel Bay Advertiser uitgenooi om oor twee jaar, haar 100ste verjaardag te kom saam vier. Sy het verlede week vir Mareze gevra of sy al die koerant herinner het aan haar groot dag.
Haar verjaarsdag is nog meer spesiaal gemaak toe sersante Siko en Mtini van die SAPD opgedaag het om haar geluk te wens.
Hulle was verlede jaar behulpsaam met 'n beëdigde verklaring wat moes afgeneem word en hulle het tannie Gerda belowe dat hulle op haar 100ste verjaarsdag saam gaan kom koek eet.
Tannie Gerda het in die paar jaar wat sy in Mosselbaai woon, diep spore getrap en haar raad aan die jonger generasie is steeds – leef elke dag voluit en lag baie.
Sersante Siko en Mtini van die SAPD het ook hul gelukwense persoonlik kom oordra.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'