TUINROETE NUUS - 'n Tandarts van George wat drie jaar gelede 'n vonnis van korrektiewe toesig opgelê is weens seksuele dade met 'n minderjarige, het op Woensdag, 17 Januarie in die Mosselbaai-streekhof verskyn.
Dokter Ian Venter is in Mei verlede jaar by sy praktyk in hegtenis geneem omdat hy glo wéér kinderpasiënte behandel het.
Die 45-jarige Venter is weens minagting van die hof in hegtenis geneem nadat hy na bewering van die voorwaardes van sy vonnis verbreek het.
Venter is in 2014 skuldig bevind op drie aanklagte wat verband hou met seksuele dade met 'n minderjarige en twee aanklagte wat verband hou met die wys van pornografiese materiaal aan 'n minderjarige.
Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het in Maart 2016 'n klag teen Venter ingedien nadat inligting ontvang is dat Venter steeds kinders behandel.
Die polisie het ook op dokumentasie en 'n rekenaar beslag gelê. Venter het in die Mosselbaai-streekhof verskyn omdat daar nie vir die saak plek was op die hofrol in Thembalethu nie.
Die saak is uitgestel na 11 April in die Thembalethu-streekhof vir uitspraak.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'