Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - In die jaar 1955 koop 'n jong verliefde paartjie 'n tafeldoek in Fraserburg in die Noord-Kaap.
Die gedagte was dat die materiaal wat van Madeira afkomstig is, deel gaan uitmaak van hul bruidskat (trousseau) 'n jaar later toe hulle in 1956 getroud is.
Koot en Martha Swart is nie meer vandag se kinders nie en op die ouderdom van 88 en 86 onderskeidelik, woon hul tans in Hartenbos met kinders, kleinkinders en agterkleinkinders deur die hele land versprei.
Die tafeldoek het egter agterweë gebly, aangesien daar met kinders grootmaak nie vir Martha tyd was vir naald- en borduurwerk doen nie. Hiervoor was sy van jongs af baie lief. So gebeur dit dan ook dat haar dogter Elsa in haar matriekjaar haar ma vra of sy maar die tafeldoek en die aanvanklike projek kan oorneem om dit te borduur.
Kyk 'n video hieronder:
En daar herhaal die geskiedenis van die tafeldoek homself. Met vier kinders kom Elsa, nou Steenkamp, ook nie by die borduurwerk uit nie.
Sowat 'n jaar en nege maande gelede vind die tafeldoek weer sy pad terug van Calvinia af waar Elsa tans woon, terug na Hartenbos.
En dis toe dat Martha besluit dat die ledigheid end moet kry.
Sy het ongeveer nege maande gelede die tafeldoek begin borduur.
Koot vertel aan Mossel Bay Advertiser dat hy maar uit sy vrou se pad gebly het en homself met huistake besig gehou het.
"Martha was vasbeslote om die tafeldoek te voltooi. Met 'n klein naald en sonder haar bril het sy die fyn werk aangevat en klaargemaak," vertel hy.
Die fyn blommetjies op die doek en die garingtipe wat baie skaars geword het, was maar net een van die uitdagings wat dié bejaarde vrou gehad het. Ander brei- en naaldwerk het opsygestaan tot die tafeldoek na 65 jaar eindelik tot sy reg gekom het. Na voltooiing is dit weer terug na Elsa in Calvinia, waar sy dit net met spesiale geleenthede uit die kas haal.
Koot en Martha is altyd bedrywig. Martha hou haar besig met breiwerk, van poppies tot sokkies. Koot weer is altyd in die tuin doenig of met takies in en om die huis. Hy was juis so 'n tyd gelede ook in die Advertiser met 'n boontjierank van hoër as 2m.
Martha Swart en haar dogter Elsa Steenkamp by die tafeldoek waarvan die borduurwerk na 65 jaar eindelik voltooi is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'