MOSSELBAAI NUUS - 'n Erfstuk kan baie sentimentele waarde hê en indien so 'n item verlore of gesteel raak, kan dit 'n groot leemte laat.
So het die Argyropoulus familie terdeë besef nadat 'n kosbare familie-erfstuk, 'n soliede eikehouttafel met stoele, in Augustus vanaf hulle balkon by hulle huis in Mosselbaai gesteel is.
Georgia Argyropoulus het aan Mossel Bay Advertiser vertel dat die tafel vele herinneringe vanaf haar kinderjare terugbring van die tyd wat haar ouers die tafel gekry het toe sy nog baie jonk was.
"My pa is van Cypris en my ma van Italië en met niks het hulle 'n bestaan gemaak in Suid-Afrika," vertel Georgia. "Alles wat ons het, het ons hard voor gewerk." Rondom die tafel het die Argyropoulus-gesin vele vriendskappe gesmee. Selfs Dalene Matthee het 'n paar dae by hulle gekuier en saam om dieselfde tafel gesit.
Nadat die tafel, wat een persoon nie kan dra nie, van die balkon verdwyn het, het hulle die polisie gekontak en die diefstal aangemeld. Die gesin het egter besluit om self in te spring om die tafel op te spoor. Georgia het haar tot Facebook gewend en op al die tweedehandse winkels en verkoopgroepe gevra dat mense haar moet kontak indien hulle die tafel iewers sien.
"Ek het ook almal op die groepe belowe dat ons niemand sal vervolg en wou net die tafel terughê," sê sy. Die eienaar van 'n tweedehandse winkel, net so 'n ent van die Argyropoulus se huis, het haar gekontak en gesê die tafel is in die winkel by hom. Hulle was oorstelp van vreugde toe hulle die tafel by die winkel sien.
Die diewe het die tafel deur 'n stuk oop grond voor die huis gedra en op die stoep van vermoedelik 'n vakansiehuis gesit.
Volgens Georgia het hulle toe die tweedehandse winkel gekontak en dié het die meubels kom oplaai en die transaksie gedoen. Die winkeleienaar het egter reeds begin om die stoele te herstoffeer en dit gaan die gesin nou egter 'n paar rand kos.
"Buiten verskeie ander items wat al hier gesteel is, is ons net baie bly dat ons die tafel teruggevind het," sê sy.
Hulle weet egter wie die persoon is wat die tafel en stoele gesteel het en hy is nog steeds 'n karwag in die dorp. Hy het op 'n stadium tuinwerk gedoen by die gesin. Volgens haar is die oop stuk grond voor hulle erwe 'n slaapplek vir die diewe en bedryf hulle hul inbrake van daar af.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'