MOSSELBAAI NUUS - Nadat hulle jare reeds swemrekords verbeter en 'n gesamentlike 25 Eden-rekords agter hulle name kan skryf, het die susters Isabeau (12) en Elke Coetsee (10) hul visiere daarop ingestel om in die toekoms eendag Suid-Afrika by die Olimpiese Spele te verteenwoordig.
Dié twee swemsussies het onlangs aan die Eden LC4 Gala in Knysna (25 Januarie) en die Infinity Gala in Gqeberha, tussen 31 Januarie en 2 Februarie deelgeneem.
Hulle het rekords oor beide naweke in die kortbad (25m) en die Olimpiese standaard (50m) swembaddens verbeter.
Isabeau het die 100m- en 200m-rugslagrekord in die kortbad met drie- en nege sekondes verpletter, en daarna ook op haar eie 100m-rugslagrekord in die Olimpiese standaard swembad 'n nuwe standaard gestel.
Merkwaardig is dat die twee rekords, wat sy in die kortbad verbeter het, onderskeidelik reeds vir 10 en 7 jaar op die rekordboeke was voor sy daarmee klaargespeel het.
Elke het die Eden-rekords in die 100m rugslag in beide die kortbad en Olimpiese standaard baddens verbeter. Die vorige rekords is nege jaar gelede opgestel. "Ons was albei baie opgewonde en trots toe ons besef ons het rekords verbeter," het die susters vir die Mossel Bay Advertiser vertel.
Hul gesamentlike 25 Eden-rekords is oor 'n tydperk van 18 maande in beide dissiplines opgestel. Agter Isabeau se naam staan 17 rekords terwyl die jonger Elke met agt spog.
Elke (links) en Isabeau Coetsee (regs).
Dirco Nienaber, die meisies se afrigter by Fish Eagle Aquatics in George, sê albei meisies is baie toegewyd en uiters mededingend. Hulle oefen vier tot vyf dae per week, en spandeer 'n anderhalfuur in die swembad.
"Die kompetisies kan uitdagend wees. Maar hulle presteer goed onder druk, ongeag hoe gespanne hulle vooraf mag wees," sê Nienaber.
Om 'n gejaagde swemskedule te balanseer met skoolverantwoordelikhede, is nie 'n maklike taak nie, maar die meisies bly toegewyd.
Trotse pa, De Wet Coetsee, het aan die Advertiser gesê sy dogters voltooi hul huiswerk sommer in die motor op pad na en van oefensessies.
Hulle staan ook vroegoggend op om die nodige studeerwerk te doen.
Isabeau en Elke is leerders by Laerskool Park op Mosselbaai, en swem ook vir die skool. "As 'n ouer is jy natuurlik baie trots. My meisies is baie toegewyd met dit wat hulle doen," het hy gesê.
Die meisies het groot kompetisies wat in 2025 voorlê.
Elke sal op 20-23 Maart aan die SuidAfrikaanse Vlak 3-kampioenskappe in Kaapstad deelneem en Isabeau sal op 25-29 April by die Suid-Afrikaanse Nasionale Juniorkampioenskappe in aksie wees.
Isabeau is eerste in die land gekeur vir veelvuldige byeenkomste in haar ouderdomsgroep, terwyl Elke in die top drie is vir veelvuldige byeenkomste in haar ouderdomsgroep.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’