MOSSELBAAI NUUS - Aankopers van tweedehandse ware, soos skroothandelaars moet uiters bedag wees wanneer goedere aan hulle gesmous word. Adjudant-offisier Thinus Newman is gemoeid met die kontrolering van handelaars in tweehandse goedere in die Da Gamaskop-polisie se bedieningsarea.
Ingevolge die Wet op Tweedehandse Goed, Wet 6 van 2009, moet handelaars van die volgende kennis neem.
Skrootmetaalhandelaars word volgens Artikel 22 van die wet verplig om enige onwettige handeling in skrootmetaal en/of vermoedelik gesteelde eiendom sonder versuim aan die polisie te rapporteer, sodat die aard en omstandighede van sulke gevalle opgevolg en ondersoek kan word.
Alle munisipaliteite, gesondheidsinstansies, telekommunikasiemaatskappye (Open Serve / Telkom, Vodacom, MTN, Cell C), kragverskaffer Eskom, fabrieke insluitend PetroSA, boeregemeenskappe ensovoorts, word gemaan om toerusting soos telekommunikasietorings, sonpanele, batterypakke en dies meer gereeld te inspekteer en skade of verliese by die polisie aan te meld.
Landbouers en hulle werkers word ook versoek om hul waterpompe, kragpunte en dies meer gereeld na te gaan. Dit is raadsaam om hierdie items te beskerm teen diefsal en beskadiging deur middel van alarmstelsels.
Swaar straf
Die Wysigingswet op Strafregtelike Aangeleenthede, 18 van 2015 (die Wet), het op 1 Junie 2016 in werking getree.
Hierdie Wet verseker dat daar strenger voorwaardes opgelê word vir die toekenning van borgtog ten opsigte van noodsaaklike infrastruktuurverwante oortredings. Daar word ook voorsiening gemaak vir die oplegging van strenger vonnisse aan oortreders. Die Wet word beskou as 'n tydige instrument om toenemende dade van vandalisme en diefstal van infrastruktuur te hanteer.
Ingevolge die oortredings wat verband hou met noodsaaklike infrastruktuur, bepaal artikel 3 van die Wet:
Enige persoon wat onwettig en opsetlik –
(a) met noodsaaklike infrastruktuur peuter, dit beskadig of vernietig; of
(b) saamsweer of help by die opdrag, verrigting of uitvoering van ‘n aktiwiteit bedoel in paragraaf
(c) en wat geweet het of redelikerwys moes geweet het of vermoed het dat dit noodsaaklike infrastruktuur is, is skuldig aan 'n misdryf en mag by skuldigbevinding aanspreeklik wees vir 'n tydperk van gevangenisstraf van hoogstens 30 jaar of, in die geval van 'n regspersoon soos beoog in artikel 332(2) van die Strafproseswet, 1977, 'n boete van hoogstens R100 miljoen.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'