MOSSELBAAI NUUS - Verskeie opruimingsaksies was Maandagoggend, 30 September steeds aan die gang in verskeie areas in Mosselbaai na die swaar reënbuie wat die vorige dag geval het.
Mosselbaaiers het vroeg Sondagoggend, 29 September reeds op sosiale media hulle opgewondenheid en dank oor die reën wat uitgesak het te kenne gegee. Selfs die donderweer, hoewel buitengewoon vir die Wes-Kaap, is verwelkom.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gewaarsku dat die swaar reën wat voorspel is, oorstromings tot gevolg sou hê.
Kort na die eerste swaar buie, is berig dat paaie in Hartenbos in “riviere” verander het. Videos wat deur lede van die publiek geneem is, het dit bevestig.
Stormwater het in parkeerareas voor winkels in Hartenbos en ook by die Hartenbos Seefront opgedam.
‘n Gedeelte van ‘n keerwal op die toegangsroete na Vogelsang oftewel Vakansieplaas het in duie gestort. Die duikweg op pad na die Bayview-woongebied was bykans onbegaanbaar vanweë opgedamde reënwater.
Van die woongebiede wat die ergste deurgeloop het is die Monte Christo-ekolandgoed buite Hartenbos. Plaviesel uit die toegangsroetes binne die landgoed is weggespoel. Stormwater het deur sommige huise beweeg. Alhoewel geen ernstige skade aangemeld is nie, toon foto’s op sosiale media dat huise modderig en vol opdrifsels na die oorstromings gelaat is. Na wat verneem word, is daar nie verdere erge skade in ander woongebiede aangemeld nie.
Etlike videos is ook op sosiale media geplaas wat toon hoe reënwater deur en verby kampeerders se kampplekke stroom.
Die Mosselbaai-munisipaliteit se spanne moes vir ‘n geruime tyd deur die loop van Sondag bontstaan om oral hand by te sit soos berigte van swaar reën ontvang en probleme gerapporteer is. Kragonderbrekings is ook in omliggende areas ervaar.
Ook in die omliggende gebiede, soos in die Herbertsdale-distrik waar groot waternood heers, is goeie reënval op plase langs die Gouritsrivier aangemeld.
Die syfers ontvang lyk soos volg:
Danabaai - 50mm
Mosselbaai dorp - 50mm
Hartenbos – 49mm
Heiderand – 40mm
Herbertsdale – 42 mm
Ruiterbos - 15mm
•In sommige gevalle is hierdie nie die finale syfers gemeet.
Hartenbos Seefront se parkeerarea het in 'n dam verander.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'