MOSSELBAAI NUUS - Suzette Herrer, Groep Redakteur van die Group Editors groep, en voormalige redakteur van Mossel Bay Advertiser, is vanjaar al vir 40 jaar lank deel van dié maatskappy.
Sy is 'n naam sinoniem met Mosselbaai se gemeenskapskoerant.
Een ding wat sy sê sy deur die jare geleer het is om elke leser ewe belangrik te ag - "Elke persoon wat 'n brokkie nuus vir jou gee, glo dit is belangrik."
Hoewel sy jare se ondervinding agter die blad het, was sy 40 jaar gelede 'n groentjie wat aan die diepkant ingegooi is en moes leer swem.
"Ek het gelukkig op Mosselbaai opgeëindig waar ek saam met die wonderlikste mense (kollegas en inwoners) kon werk, wat my op 'n mooi manier geleer het om in die sakewêreld te oorleef. Mosselbaai, en die Mossel Bay Advertiser, was natuurlik 'n heel ander plek toe sy hier begin het.
"Ek het as redakteur begin met net 'n paar vryskutjoernaliste om die koerant vol nuus te maak. Gelukkig was die koerant toe nog maar agt bladsye en kon ek saam met dit groei waar ons op 'n tyd al 'n 72 blad koerant uitgebring het, toe darem met twee joernaliste in die redaksie."
Soveel jare maak natuurlik vir 'n reeks herinneringe, sommige wat altyd meer sal uitstaan as ander. Vrydae was altyd 'n baie interessante dag by die Advertiser, vertel sy.
"Shirley Coetzee, destydse bemarker, en ek het sommer self van die koerante gaan aflewer. Ons het 'n paar straatverkopers gehad waarvan die meeste maar kanse gevat het.
"Hulle het soms met die koerante en die geld verdwyn dan moes ek en Shirley hulle gaan soek en polisiestasie toe neem net om die geld terug te kon kry - daardie tyd ook maar net 'n paar rand.
"Ons ontvangsdame wou nie die kantoor sluit voor daar nie rekenskap vir elke sent gegee is nie en ons moes saam met haar daar sit tot die laaste verkoper terug is of die geld in is.
"Terwyl ons vir hulle wag het ons gewoonlik 'n worsie in 'n braaidrommetjie op die stoep voor die kantore gebraai - heerlike dae."
Dis nie ongewoon vir mense om deur hul beroepe van plek tot plek te gaan en 'n nuwe begin te maak nie, maar Suzette se lojaliteit lê nog altyd by Mosselbaai.
"Ek het die beste werkgewers waarvoor 'n mens kan vra. Hulle maak jou deel van hulle 'familie' en was nog in alle opsigte altyd daar vir my."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’