In die George-lughawe se vertreksaal is 'n plegtige Nkosi Sikelel' iAfrika as afskeidslied voor 'n groot skare ondersteuners gesing.
Die toer is moontlik gemaak deur fondsinsameling sodat die groep van 81 toerlede (63 kinders, 7 onderwysers en begeleiers en 11 ouers) teen 'n onkoste van R2,6 miljoen almal kon saamgaan. Daar was heelwat ouers wat nie kon bekostig om te betaal vir die reiskostes nie, en daar is toe onder andere 'n suksesvolle gholfdag en 'n gala-aand gehou. Van Rensburg Foods en Margot Swiss se 'Wen R1 000 se vleis per maand vir 'n jaar'-kompetisie ten bate van die toer is steeds aan die gang en kaartjies is teen R50 beskikbaar.
Die koorleier Jan-Eric Swart het tydens 'n onderhoud by die lughawe gesê die koor het oor die afgelope naweek 'gepeak', en is gereed om aan die spele deel te neem. Hy sê KKNK Animato beoordelaar, Margie Spaumer, het tydens 'n persoonlike gesprek met hom bevestig dat al die koorlede op wêreldstandaard is. Die jongste lede is nege jaar oud en die oudste is sestien.
Swart is oortuig dat die koor se uniekheid daarin sal lê dat hul egte etniese liedjies en danse met 'n Afrika-aanslag gaan aanbied. Hy hoop dit gaan groot byval vind by die Europese gehore.
Daar is 472 topkore uit 52 deelnemende lande, wat teen mekaar gaan kompeteer vir die titel 'Beste koor ter wêreld'. Dit is die eerste keer in die geskiedenis van die Suid-Kaap dat koorlede uit plaaslike skole aan hierdie glans-ryke kompetisie sal deelneem. Die eerste optrede was reeds Dinsdag in een van Europa se grootste katedrale in Keulen, Duitsland.
SIEN FOTOGALERY

Die Suid-Kaap Kinderkoor sing vir oulaas Nkosi Sikelel' iAfrika by die George-lughawe waar ouers en ondersteuners vir oulaas die historiese gebeurtenis afgeneem het. Die koor het Maandag vertrek om deel te neem aan 'n internasionale kompetisie vir kore in Europa. Foto's: Pauline Lourens
ARTIKEL: PAULINE LOURENS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'