TUINROETE | HESSEQUA NUUS - Die Suid-Kaap saam met die Overberg sal een van 'n paar soewereine state binne 'n konfederasie vorm indien die groep, Verenigde Vryheidsalliansie (United Liberty Alliance), hulle sin kry.
Die geografiese gebiede wat hulle in hul visier vir selfbeskikking het, is die ou Kaapprovinsie (Wes-Kaap, Noord-Kaap en 'n gedeelte van die Oos-Kaap) asook Wes-Vrystaat en 'n klein gedeelte in Gauteng, wat Pretoria insluit.
Volgens Hein Marx, 'n woordvoerder vir die alliansie, is hulle reeds só ver gevorder in die proses om dit tot stand te bring, dat 'n sentrale interim-regering van tussen 12 en 18 persone in die volgende maand gevorm sal word. "Ons vra vir die sessie van gebiede in die land waar die minderheidsgroepe die meerderheid is, volgens die 2011-sensus. Die model wat ons voorstel se primêre fokus is beperkte sentrale regering. Die voorgestelde staatsgrense is reeds opgetrek om te verseker dat spesifieke subgroepe soos die Griekwa nooit weer deur 'n ander groep gedomineer sal word nie. Dit is soos die inwoners van New York wat geen sê het oor opvoeding in Texas nie. So, as ek na 'my mense' verwys, verwys ek na die mense van die Suid-Kaap, die staat waarin ek woon," het Marx aan George Herald, susterskoerant van die Mossel Bay Advertiser en Suid-Kaap Forum gesê.
Eendersdenkend
Die alliansie beskryf hulself as 'n groep van eendersdenkende organisasies en individue wat uit die "Kaapse smeltpot" ontstaan het, ook deur die vermenging van een of meer van die volgende: die gebied se Eerste Nasie (Khoi of San), slawe en ander kontrakarbeiders, asook Europese immigrante.
"Een van die voorwaardes van die internasionale reg is dat daar ten minste een ooreenkoms tussen die groepe moet wees - hetsy dit etnisiteit, taal, kultuur of geloof te wees. Die groepe in ons alliansie het raakpunte in hul taal, kultuur én geloof."
In 'n verklaring vroeër die maand, het die alliansie aangekondig dat die Koninklike Huis van die Griekwas by die proses aangesluit het.
In die voorgestelde konfederasie sal die Skiereiland, Griekwaland, Boesmanland, Namakwaland en Trans-Oranje onder meer ook gebiede wees wat soewereine state sal vorm.
Die proses, wat deur internasionale wetgewing erken word, is nege jaar gelede begin. Vir internasionale erkenning van selfbeskikking moet die alliansie kan bewys dat hulle 'n mandaat van die meerderheid van kiesers in die betrokke gebied het.
"Dis ongeveer twee miljoen mense. Ons probeer daardie stemme nou kry en ons trek al by ongeveer 335 000. Ons moet ook steun van ten minste een ander land hê en daar is reeds verskeie lande wat hulle steun aan ons toegesê het."
Die alliansie mik om binne die volgende twee jaar die stemme bymekaar te hê en die sessie van grond te bewerkstellig.
Marx sê hulle het nie 'n ander keuse as om internasionale regsvereistes vir sessering, te volg nie nadat hulle die regering sonder sukses hieroor genader het.
"Alle interne remedies is uitgeput. Wanneer ons al die stemme het, sal ons die regering vra vir 'n referendum in die betrokke gebiede. As die regering dit ignoreer, het ons slegs nodig dat een internasionale gemeenskap ons eensydige verklaring van onafhanklikheid erken om dit wettig te maak. Dit beteken die hele staatsdiens in die gebied hou onmiddellik op bestaan. Indien die Suid-Afrikaanse regering dit nie wil erken nie en jou militêr aanval, moet die Verenigde Nasies en een van die lande wat jou onafhanklikheid erken, jou kom verdedig. Dan moet 'n interim-regering reeds in plek wees. Ons kry reeds aansoeke vir poste van belangstellendes."
Die alliansie het 62 vrywilligers wat help om bewusmaking te skep en stemme te werf, sê Marx.
Prinses Dondelaya Damons en prof Berte van Wyk (links, Universiteit Stellenbosch) van die Griekwa Koninklike Huis saam met Hein Marx van die Verenigde Vryheidsalliansie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'