MOSSELBAAI NUUS - Lede van die Sonskynvallei-gemeenskap het gewys dat jy nooit te jonk of te oud is om te leer nie.
Ná voltooiing van 'n kursus in rekenaargeletterdheid, het twintig gegradueerdes op Dinsdag, 26 November, sertifikate by die Wes-Kaapse regering e-sentrum in Sonskynvallei ontvang.
Die Wes-Kaapse provinsiale regering se e-sentrum-program het verskeie e-sentrums regoor die Wes-Kaap gevestig.
Die e-sentrums bied aan almal gemeenskaplike toegang tot rekenaars en die internet wat hulle vir 'n verskeidenheid doeleindes kan gebruik.
Skoolprojekte, werksaansoeke, internetbankdienste, SARS e-liassering en CV-skepping is net 'n paar voorbeelde.
Burgemeester van Mosselbaai, Dirk Kotzé, het die stappe wat hy geneem het met die begin van sy eie besigheid, as entrepreneur, met die graduerende klas gedeel.
"My uitdaging aan elkeen van julle is om soos 'n entrepreneur te dink. Vra jouself af: hoe kan ek dié sertifikaat en vaardighede gebruik om probleme in my dorp op te los?", het hy gesê.
"Die Sonskynvallei Wes-Kaapse provinsiale regering se e-sentrum help ons plaaslike Mosselbaaiers om meer effektief met die regering en gemeenskappe regoor die wêreld te kommunikeer deur toegang tot e-pos, internet en verskeie regeringsdienste te verskaf," het hy in sy toespraak gesê.
Nicole Abrahams van VA Lookup, 'n maatskappy wat klein besighede ondersteun, het studente wat al drie modules voltooi het, 'n internskap aangebied om ervaring op te bou.
Die Da Gamaskop Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en Sonskynvallei buurtwag het vir die studente 'n klein geskenk gegee, asook die geleentheid geborg.
Die GPF het gesê, "met rekenaarvaardighede kan jy kuns op verskillende maniere skep, deel wees van netwerke wat toesig hou, aanlyn werk en soveel meer."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’