MOSSELBAAI NUUS - ‘n Aspirant maatskaplike werker vanaf die Noordwes-Universiteit wat tans sy finale-jaar internskap by ACVV Mosselbaai voltooi, Craigon-Lee Keffers, het as een van sy projekte, #CovidTalk ten doel gehad om onkunde by leerders van EK Primêr te elimineer.
“Soos enige ouer weet, is jong kinders baie vinnig en kwesbaar om infeksies te kry en aan ander te gee,” sê Keffers.
“Aangesien ons kenmerke van Covid-19 begin verstaan, het dit duidelik geword dat kinders grotendeels ver van die besmetting van die virus af is, en as hulle besmet word, dit gewoonlik ligte simptome is.”
Keffers sê ook as maatskaplike werkers plaas hulle hulself in die middel van die beskerming van kinders, nie net fisies en emosioneel nie, maar ook om te verseker dat hulle gesond is, weg van siektes en infeksies af wat hulle kan benadeel.
Bogenoemde het hom gelei om ‘n nuwe omvattende opvoedkundige program te implementeer, wat daarop gemik is om ‘n veilige omgewing in EK Primêre skool te skep deur alle ouderdomsgroepe oor die voorkoming van gesondheidsgevare en die verskillende fasette daarvan te onderrig wat verband hou met die Covid-19 virus.
Die projek het op 21 Oktober by die skool plaasgevind. Die rolspelers het ACVV Mosselbaai en die gesondheidsdepartement ingesluit. Die projek het onder andere inligting deurgegee vir die leerders rakende die virus en om die skool ook van maskers en ontsmettingsmiddels te voorsien.
Met betrekking tot die maskers het Afrishore Mosselbaai dit geskenk met die skool se eie embleem daarop. “Die maskers kon eers twee weke na die implementering van die projek arriveer en het veroorsaak dat ek op my voete moes dink om aan ‘n tweede plan te dink,” vertel Keffers, wat toe sy universiteit genader het. Die Noordwes-Universiteit het nie twee keer gedink om ‘n skool in die Wes-Kaap, spesifiek Mosselbaai met die nodige maskers te help nie. Die skool se graad 6- en 7-leerders het toe almal NWU-maskers ontvang.
Vir Keffers was dit belangrik om sy universiteit betrokke te kry. “Ek wou hulle laat verstaan dat hulle eendag in my skoene sal wees, op ‘n universiteit en in ‘n posisie om vir daardie skooltjie terug te gee waar ookal hulle ‘n projek wil implementeer.”
Die leerders het goeie belangstelling getoon en almal vanaf graad 1 tot en met graad 7 het deelgeneem en vrae gevra. Die kinders was ook baie gretig om die verpleegster, Tonia Aylword in haar Covid-19 verpleegklere te sien. Hulle het dit interessant gevind omdat verpleegsters hulself heeltemal bedek.
Die groot hoogtepunt van die #CovidTalk projek was die feit dat die graad 6 en 7’s van die skool aan die einde van die projek briewe aan Keffers oorhandig het wat die voorgrondwerkers bedank vir die dienste wat hulle lewer. Die skoolhoof, me Hook het vir hom die briewe gegee om dit aan die provinsiale hospitaal te oorhandig.
Een van baie briewe sê die volgende: “Ek wil net vir een en elk dankie sê wat ons gesond hou. Ek weet nie wat ons sou gedoen het as julle nie hier was nie. Ek weet dat dit baie hard is om met al die siekmense te werk, maar hou moed in. Moenie opgee nie. My hoop kom van julle af en sal altyd van julle af kom- van Nikita."
Keffers het ook die volgende rolspelers bedank vir hul bydraes tydens die projek: Mosselbaai ACVV, verpleegster Tonia Aylward van die provinsiale hospitaal in Mosselbaai, die Noordwes-Universiteit, Afrishore, Logo Studio Mosselbaai en EK Primêre skool.
Leerders en personeel van EK Primêre skool saam met Craigon-Lee Keffers tydens sy projek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'