Video
GROOT-BRAKRIVIER NUUS - "Met 'n klein bietjie moeite kan almal 'n verskil maak," sê Niel du Bois, eienaar van die gewilde seekosrestaurant op die strand by Groot-Brakrivier.
Hy is passievol oor die voorkoming en bekamping van omgewingsbesoedeling en was onlangs gasheer vir talle eienaars en operateurs in die gasvryheidsbedryf, juis om bewustheid te kweek vir die wyse waarop hierdie bedryf 'n veel groener voetspoor op die omgewing kan laat.
"Dit gaan nie net oor koeldrankstrooitjies en plastieksakke nie. 'n Mens kan vra wat maak een strooitjie nou saak - maar wanneer in ag geneem word dat miljoene strooitjies jaarliks op vullishope en in die see beland, dan maak elke strooitjie saak. In die see veral, dryf strooitjies bo die water en word dis maklik deur seevoëls en seeskilpaaie vir kos verwar. As 'n seedier die plastiek inneem is die dood sy voorland."
Du Bois sê by De Vette Mossel is heelwat maatreëls reeds ingestel om omgewingsbewaring te bemoedig, met nog ander wat sal volg. "Ons bedien kos in papierborde en gaste eet met seeskulpe juis om op opwaswater te spaar. Alle kos wat nie opgedien word nie, word in die omliggende gemeenskappe aan hulpbehoewende begunstigdes versprei."
Hy sê die gasvryheidsbedryf kan 'n wesentlike verskil maak deur omgewingsvriendelike praktyke te bevorder.
Kyk 'n video hieronder.
Kennelik 'n opelug-restaurant waar kos oor vure gaargemaak word, gebruik De Vette Mossel uitsluitlik die hout van uitheemse indringerspesies vir die kole. Hulle span ook sonkrag in en op wolkbedekte dae word 'n kragopwekker gebruik.
"Elke persoon, veral diegene in die gastehuis- en restaurantbedryf kan 'n bydrae lewer deur afval op die perseel te verminder, deur herwinning en hergebruik aan te moedig. By De Vette Mossel word nie-herwinbare wegneemgerei glad nie geduld nie. Dis die boodskap wat ons wil tuisbring," sê Du Bois.
Hy het die gaste, ook 'n aantal aanlynbemarkers wat gaste van Mosselbaai Toerisme die area besoek het, hartlik verwelkom.
Verskeie van die eienaars van gastehuise en eetplekke wat as gaste De Vette Mossel besoek het, het Du Bois se inisiatief geloof en beaam dat omgewingsvriendelike praktyke by meeste van Mosselbaai se instellings reeds die norm is. "Soms is dit net goed om weer 'n ander man se passie te beleef om met vars oë na jou eie onderneming te kyk en seker te maak jy doen soveel as moontlik om omgewingsvriendelik op te tree."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'