DANABAAI NUUS - Toe slangvanger Devon de Villiers en fotograaf Christiaan Stopforth gister na Danabaai se Tweedestrand is om dolfyne in die branders af te neem, was die laaste ding wat hulle verwag het, om 'n Kaapse kobra op die strand tee te kom.
De Villiers woon op Danabaai en is 'n ervare slangvanger en het, terwyl hulle strandlangs gestap het, iets tussen die sandduine gewaar.
"Dit het van ver af gelyk soos 'n slang en toe ons nader stap om te kyk het ek gesien dit is 'n roesrooi Kaapse kobra."
Die kobra was tussen die see en die duine.
De Villiers en Stopforth het foto's van die slang geneem waarna De Villiers die slang in sy rugsak gesit het.
"Ek het nie my slangvang-toerusting byderhand gehad nie so ek het die kobra aan sy stert opgetel en sy kop by die rugsak gesit. As jy 'n slang die kans gee sal hy in 'n donkerplek in gaan en daar gaan lê."
De Villiers het toe die rugsak toegezip en met die slang op sy rug teruggestap na sy motor toe.
"Ek sal dit nou nie vir enigeen aanraai om te doen nie," sê hy laggend.
Hy sê dit is nie algemeen om 'n kobra op die strand raak te loop nie.
Die roesrooi Kaapse kobra op Danabaai se Tweedestrand. Foto: Christiaan Stopforth
Hy skat die kobra is sowat vier jaar oud.
"Dit gebeur dikwels omdat hulle verdwaal. Hy het waarskynlik by die sandduin afgegaan en toe net aanhou seil in die rigting van die see. Indien jy 'n slang op die strand sien is dit omdat hy per abuis daar opgeëidig het."
Die slang is by 'n groenstrook op Danabaai vrygelaat.
Devon de villiers het die Kaapse Kobra in sy rugsak gesit.
Besoek De Villiers se YouTube kanaal, Slangboere of sy Facebook-bladsy, Slangboere waar hy beeldmateriaal van sy slangvangsessies deel.
Indien jy ooit 'n slang wil verwyder sal De Villiers dit vir jou kan doen. Hulle verwyder slange vanaf Danabaai tot Klein-Brakrivier. Kontak hom by: 076 781 0528.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’