MOSSELBAAI NUUS - Tien digters het met trots verlede week hulle pennevrug in bundelvorm vasgehou toe Digterstemme/Poetic Voices bekendgestel is.
Tydens die bekendstelling op Donderdag, 3 Junie het die samesteller René Bohnen, 'n bekende stem in literêre kringe verduidelik wat die oorsprong van die bundel was.
Nadat 'n klompie skrywendes mekaar gevind en begin byeenkom het, het die groep hulleself aanvanklik Digterstemme genoem.
Engelse lede is ook sommer gou verwelkom en daarom is die naam na Poetic Voices uitgebrei.
Na 'n lesing deur Bohnen in 2019, het die groep aktief begin skryf en is die droom van 'n versamelbundel gebore. Met die koms van Covid-19, was byeenkomste buite die kwessie, maar soos Bohnen tong in die kies sê, met kreatiewe aanpassing van 'n bekende spreekwoord: "Waar 'n gedig nie kan loop nie, kruip dit."
Ten spyte van sosiale afstand, het gedigte steeds op via e-posse tot fakse onder groeplede die ronde gedoen met dié spog bundel as die uiteinde.
Fotogalery: Digterstemme klink op in bundel
Gerrit Theron, ook een van die digters, het tydens die verwelkoming beklemtoon dat dit maar die groep se eerste bundel is. Hy het names sy mede-digters die bundel aan Bohnen opgedra.
Bohnen het op haar beurt verduidelik dat die inperking eintlik die groep se digkuns laat floreer het. "Skryf het opnuut 'n pad deur die duisternis geword wat gedreig het om ons te oorweldig. Te midde hiervan, was die digkuns soos 'n lewenskrag. Die bundel is 'n vertoonstuk van 'n tydperk in 'n groep mense se geskiedenis."
Sy het beklemtoon dat die gedigte nie lukraak gekies is nie, maar die produk van 'n deeglike slypproses is.
Aan die digters het sy gesê: "Hierdie is 'n geskenk aan julle kinders, vriende en julle taal."
Sharon Brummer, René Bohnen en Essie Cloete klink 'n glasie op sukses.
Betsie Theron, 'n trotse oud-onderwyser saam met haar student, Annerie Troskie en Annerie se ma, Lisemarie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'