MOSSELBAAI NUUS - Een van die staatmakers in die Mosselbaai polisie, kaptein AJ Le Roux, wat onder die lede bekend is as "TC", het na 41 jaar einde Oktober, afgetree.
Kaptein le Roux het as jong student in 1981 by die Heidelberg polisiestasie begin en in dieselfde jaar haar basiese polisie-opleiding by die polisiekollege in Pretoria voltooi.
Sy het haarself en die mense om haar ontwikkel en was tot in 2009 by die Heidelberg polisiestasie betrokke.
Kaptein TC is daarna na die groter Mosselbaai-area verplaas waar sy by onderskeidelik Dagamaskop, Groot Brakrivier, en KwaNonqaba diens gedoen het. Sy het in 2018 as ondersteuningshoof by die Mosselbaai polisiestasie begin werk waar sy was tot en met haar aftrede verlede maand.
Die Mosselbaai stasie-kommissaris, luitenant-kolonel September, beskryf kaptein TC as 'n steunpillaar in die organisasie.
"Ons gaan haar ervaring en toewyding geweldig mis. Sy was 'n regverdige bevelvoerder wat streng volgens die regte prosedures in die Polisiediens haar pligte uitgevoer het.
"Sy het 'n geweldige groot rol gespeel in die ontwikkeling van vele polisiemanne en -vroue en ons kan net hoop dat haar nalatenskap gaan voortleef. Ons wens haar alles van die beste toe vir haar nuwe lewensreis in die wete dat die organisasie wat sy agterlaat in goeie hande is."
Lt-kol September, stasie-kommissaris van die Mosselbaai polisiestasie en kapt "TC" le Roux, ondersteuningshoof by haar aftree-geselligheid.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'