MOSSELBAAI NUUS - Inwoners en vakansiegangers kan voortaan die natuurskoon van die St Blaize-staproete op Mosselbaai geniet, sonder om hulle oor hul veiligheid te bekommer.
Die Bo-dorp-buurtwag, in samewerking met die Mosselbaai-polisiestasie, die Mosselbaai-munisipaliteit en ander belanghebbendes het op Maandag, 22 Januarie 'n projek van stapel gestuur wat die weeklikse patrollering van die staproete behels.
Dit volg nadat verskeie mense op die staproete deur gewapende mans aangeval en beroof is.
Volgens Leon van Dyk, voorsitter van die Bo-dorp-buurtwag sal sekuriteitswagte die staproete daagliks vanaf Maandae tot Vrydae patrolleer.
Van Dyk sê die doel van die projek is om veiligheid op die staproete te verseker sodat almal 'n genotvolle ervaring kan hê wanneer die staproete gebruik word.
Die sekuriteitswagte sal op die roete sigbaar wees met oranje onderbaadjies en sal die roete patrolleer vanaf Pinnacle Point tot by die lighuis.
Hierdie sekuriteitswagte sal sorg dat almal die staproete by St Blaize kan geniet sonder om oor hul veiligheid bekommerd te wees.
Van Dyk sê hulle sal binnekort ook radio's, pepersproei en ander toerusting hê.
"Die wagte sal ook toegerus word met identiteitskaarte en almal op die roete sal hulle duidelik kan uitken," sê Van Dyk.
Leon van Dyk, voorsitter van die Bo-dorp-buurtwag praat met sekuriteitswagte wat die St Blaize-staproete voortaan sal patrolleer.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'