MOSSELBAAI NUUS - Die verdagte wat deur die polisie op Mosselbaai in hegtenis geneem is nadat hy na bewering Maandag, 21 Junie vier tieners by die St Blaize-staproete met verkragting gedreig en van hulle selfone beroof het, bly in aanhouding.
Kommunikasiebeampte van die Mosselbaai-polisiestasie, ao Pieter Koekemoer sê speurders verbonde aan dié stasie ondersoek die voorval. Dit volg nadat een van die slagoffers 'n saak by die polisie aanhangig gemaak het.
'n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die meisies, almal ongeveer 17 jaar oud, om 13:00 vanuit Cecil Sheperdstraat in die rigting van die wandelroete gestap het toe die verdagte hulle agtervolg het.
Hy het hulle by 'n beboste gedeelte van die wandelroete voorgekeer en gedreig met verkragting. Die verdagte het daarna drie van die slagoffers se selfone gesteel en die bosse in gevlug.
Intussen sê die voorsitter van die Bodorp-buurtwag, Leon van Dyk, inwoners moet meer betrokke raak by sekuriteitskwessies.
Van Dyk sê daar is steeds kameras op gedeeltes van die roete en die staproete word gepatrolleer.
"Mense moet egter onthou dit kos alles geld, en daar is tans 'n tekort aan befondsing."
Hy sê hulle sukkel om inwoners by die buurtwag en sektorvergaderings betrokke te kry.
"Die beginsel is dat mense nie betrokke is nie en ons baie meer sal kan uitrig as die gemeenskap saamstaan."
Van Dyk raai inwoners aan om slegs in groot groepe op die roete te stap. "Stel ook altyd iemand in kennis van 'n beplande staptog."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'