MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-omgewing se boere word al bykans 'n eeu deur die plaaslike koöperasie, SSK (Sentraal-Suid Koöperasie Bpk) bedien.
Die koöperasie het al onder verskeie name bekendgestaan, maar dit het nie afbreuk aan 90 jaar se diens gedoen nie.
Hierdie interessante feit is tydens die Oktober-netwerkgeleentheid van die Mosselbaai-besigheidskamer deur SSK se senior bestuurder bemarking en kommunikasie, Annelie van Wyk, met die gehoor gedeel.
Die geleentheid het by die nuwe Bahia Bleu Emportium by die Diaz Strand Hotel plaasgevind.
Die koöperasie is in 1931 op Swellendam, wat vandag nog die hoofkantoor is, begin en in 1932 is die tak in Blandstraat op Mosselbaai begin. Hier is nagmaal gehou, kinders gedoop en paartjies getrou – alles as deel van die boere se samekoms by die koöperasie.
In 1946 trek hulle Kerkstraat toe en in 1984 Louis Fourieweg toe waar hulle vandag nog handel dryf.
SSK doen sake in die Wes- en Suid-Kaap asook in die Langkloof en die Karoo.
Getrou aan sy missie, naamlik om met behoud van stabiliteit die welvaart en voortbestaan van die organisasie en sy lede deur groei en diversifikasie te bevorder, streef SSK daarna om insetkoste laag te hou, 'n wye verskeidenheid produkte en dienste van uitstekende gehalte te lewer en lede by te staan in die bemarking van hulle produkte.
Die Besigheidskamer streef daarna om aan hul lede diverse netwerke te bied en die volgende een op Dinsdag, 9 November beloof om 'n besonderse een te wees.
Die baie bekende joernalis, gewese nuusleser en aanbieder, Freek Robertson kom sy boek Op die Man Af bekendstel. Freek gaan met die gehoor van sy wedervarings en inligting wat nie algemeen bekend is nie deel.
Moenie hierdie geleentheid misloop nie. Bespreek teen Maandag, 8 November by Rene Malan by 064 803 3303 of stuur e-pos aan admin@mosseelbaychamber.co.za. Die geleentheid begin 18:00 vir 18:30.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'