HARTENBOS NUUS - Baby Boomers, persone gebore tussen 1946 en 1964, en andere, noem dikwels hul tegnologiese uitdagings of sê hulle is gebore voor tegnologie.
Hulle verwysing na tegnologie in dié verband het te make met die tegnologie gekoppel aan rekenaars, kuberruimtes en selfone. Dit is vir baie amper ‘n “taboe” onderwerp én kan vreesaanjaend wees.
Iets waarmee dié groep wel bekend is, is ‘n konsertina, dikwels te vinde in boeremusiek.
Tog is diepgaande kennis en vaardighede wat daarmee saamgaan, nie noodwendig so bekend of vars in die geheue nie.
Beide die onderwerpe word in die VLV Hartenbos se volgende geleentheid bespreek.
Hier kan lede en besoekers meer te wete kom oor dié musiekinstrument. By dieselfde geleentheid kan jy jou tegnologiese uitdagings ‘n uitklophou gee.
Daar sal gefokus word op die selfoon se onbekende en ongebruikte, maar baie waardevolle funksies.
Die verrigtinge vind plaas op 20 Augustus om 09:00 vir 09:30 by die Lede-in-Christus-Kerk, hoek van Katjiepiering en Jakaranda strate, Hartenbos Heuwels.
By die geleenthied hou VLV Hartenbos-tak ook ‘n markie. Geskenkte handgemaakte artikels, asook pakkies brei- en hekeldraad en ander kuns en naaldwerk-items, word teen baie billike pryse te koop aangebied. Neem ‘n ekstra kontantgeldjie saam om die tak te ondersteun.
Die publiek word hartlik uitgenooi om die geleentheid by te woon en hulself te verryk met kennis en vaardighede, vriendelike mense te ontmoet en ‘n lekker eetdingetjie te geniet.
Bring gerus 'n vriendin of twee saam, nooi die VLV.
Vir verdere navrae oor die byeenkoms of indien jy belangstel om by VLV Hartenbos aan te sluit, kontak die voorsitter, Rolien Smit (084 621 2838).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’