MOSSELBAAI NUUS - Laerskool Hartenbos het hulde gebring aan 'n sportassistent van die skool, Jurgen van Staden wat vanoggend oorlede is.
Van Staden was 'n assistent in die skool se sportkantoor. Die skool skryf op sy Facebook-bladsy: "Ons het vanoggend 'n ware vriend en kollega aan die dood afgestaan. Baie sterkte vir sy familie en geliefdes in hierdie tyd."
Van Staden het onderwys aanlyn studeer. Volgens inligting was hy vanaf begin Februarie siek gewees en die afgelope maand in 'n hospitaal in Mosselbaai en toe vir behandeling in 'n hospitaal in George.
Hy het na wat verneem word 'n hartsiekte gehad en is vanoggend in die Groote Schuur hospitaal in Kaapstad oorlede nadat hy die naweek daarheen oorgeplaas is.
Skoolhoof, Werner van Huyssteen het aan die Mossel Bay Advertiser gesê Van Staden was geliefd onder die skool se leerders. Hy was sedert die begin van 2023 by die skool betrokke.
"Hy was 'n jongman met baie potensiaal vir die onderwys. Hy het vinnig in ons harte gekruip."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’