MOSSELBAAI NUUS - As jy graag 'n Mosselbaai van die laat Viktoriaanse tydperk en selfs vroeër sou wou besoek, is jy beslis 'n kandidaat vir die spookstap. En as die gedagte aan sogenaamde dwalende geeste jou afsit, wees gerus dat hierdie uitstappie eintlik grotendeels oor Mosselbaai se interessante geskiedenis gaan.
"Mosselbaai het eintlik 'n omstrede geskiedenis en om die waarheid te sê, is die spoke jag eintlik net die versiersuiker op die kolwyntjie," verduidelik Leon van der Walt wat graag met belangstellendes sy uitgebreide kennis oor die dorp deel.
Van der Walt beskryf homself as "van nature nuuskierig" en daarom het hy gaan ondersoek instel oor die dinge aangaande Mosselbaai wat hom interesseer. Hy het van sy skooljare in Mosselbaai deurgebring en drie jaar gelede na die dorp teruggekeer.
Nadat hy elke greintjie inligting wat hy in die hande kon kry oor "Mosselbaai in sy kinderskoene", het hy die staptog van ongeveer 1,7km saamgestel. Van der Walt het sterk gesteun op geskiedkundige inligting gepuliseer in die Mossel Bay Advertiser wat op mikrofilm by die Dias Museum beskikbaar is. "Dis duidelik uit die ou geskrifte dat die Advertiser 'n groot rol gespeel het in die ontwikkeling van die dorp," verduidelik hy.
Tydens die staptog gesels hy onderhoudend oor kwessies soos die stank in Mosselbaai vanweë 'n gebrekkige rioolstelsel. Riool het vroeër bloot met afvoerslote in die see in geloop, soveelso dat die inwoners later gekla het die vis proe daarna. Onmin oor munisipale sake is ook niks nuuts nie, aldus Van der Walt, met een van die grootste bakleierye aangeteken wat glo gehandel het oor die swemmery by die Poort.
Soos hy tydens die staptog vertel van die ou dae en verduidelik aan die hand van landmerke op die roete, sien mens die parallelle met kwessies wat vandag nog in Mosselbaai die tonge laat klap. Met die droogte tans hoog op die agenda, was daar in die 1880's tot tronkstraf opgelê vir diegene wat nie by waterbeperkings gehou het nie.
Met die omdraaipunt van die stap by die ou begraafplaas by die Punt, gaan draai sy vertellings ook by van die meer bonatuurlike verskynsels waaroor daar deur die jare bespiegel is.
Hy vertel ook van fatale ongelukke waarby onder meer ossewaens betrokke was wat op een spesifieke straathoek, die lewens van minstens sewe persone geëis het.
Maar oor die inhoud van hierdie bespiegelings, moet elke stapper maar self gaan uitvind. 'n Mens wil nou nie die aap uit die mou laat nie, want dan is die kool die sous ten ene male nie werd nie.
Meer inligting oor Leon van der Walt se spookstap is beskikbaar by Mosselbaai Toerisme. Staptogte begin daagliks by die Dias Museum.
Personeellede van Mosselbaai Toerisme het vasgenael geluister na Leon van der Walt se vertellings oor Mosselbaai se vroeë geskiedenis.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'