Gallery
HARTENBOS NUUS - Die Hartenbos-versoringsoord se spogmark vandeesweek, was nie van hier nie. In 'n wêreld waar massaproduksie aan die orde van die dag is, het besoekers aan die mark weer eens agting gekry vir die ware Jakob.
Tydens die mark, het die seniors verbonde aan die sentrum kom wys waar Dawid die wortels gegrawe het deur hulle handwerk ten toon te stel.
Daar is boonop ook handel gedryf met die items en volgens Sarona Vorster het haar "jammerlappies" soos soetkoek verkoop. Die allerheerlikste kleinkoekies was daar natuurlik ook te koop.
Fyn borduurwerk is uitgestal asook die allermooiste kwiltwerk deur Mienie Coetzee. Nie self 'n inwoner nie, maar verbonde aan die sentrum as vrywilliger, het Mienie verduidelik dat sy eintlik nie haar kwilts verkoop nie. Sy is reeds 20 jaar 'n kwilter en vind haar inspirasie uit die hordes boeke wat sy oor die kuns besit. Mienie verduidelik dat dit maar 'n duur stokperdjie is, veral as 'n mens die regte kwiltmateriaal aankoop, wat grotendeels uit die buiteland kom.
Netjiese breiwerk is ook aangebied deur onder meer Rina Terblanche, voorheen 'n onderwyseres, nou al 'n vrou van 92 wie se hande duidelik vir niks verkeerd staan nie. Marie Hattingh en Hannatjie Smal het hulle werk, wat die pikantste skilderytjies ingesluit het, saam uitgestal. 'n Mens kon jou verkyk aan Roelof van der Merwe se vintage karretjies van blik en ander herwinde materiaal en met die leerwerk waaronder selfs leerstrikdasse was, sal enige modeliefhebber beslis 'n modestelling kan maak.
Volgens Johan Jacobs, bestuurder van die sentrum het die dag goeie aftrek gekry.
"Die mark lewer bewys dat hierdie bejaardes nog 'n besliste bydrae het om te lewer, kyk die talent. Baie mense dink bejaardes sit net hier. Mense kan gerus meer betrokke raak as vrywilligers," het Mienie Coetzee bygevoeg.
Die blonde violis Anri Stenden, wie se ouma Anza ook by die versorgingsoord is, het die seniors vermaak met haar spel. Sy het aangekondig dat sy op 'n viool speel wat aan haar oupagrootjie behoort het en meer as 'n 100 jaar oud is.
'Ons bring jou die nuutste Hartenbos, Tuinroete nuus'