MOSSELBAAI NUUS - 'n Ongeluk in namiddag-spitstyd by die toegang na Danabaai op Louis Fourieweg het verkeer vanmiddag vir 'n wyle ontwrig.
Nooddienspersoneel en die Danabaai Buurtwag was binne oomblikke na die ongeluk tussen twee bakkies in die verkeerskruising waar Floraweg by Louis Fourieweg aansluit, op die toneel om hulp te verleen.
Terwyl munisipale verkeersbeamptes en brandbestryders van Mosselbaai munisipaliteit se brand en rampbestuursdienste die toneel beveilig het en gehelp het om verkeer te reguleer, het die voorsitter van die Danabaai Buurtwag, Otto Ploog en ambulanspersoneel na die beseerde bestuurder van een van die voertuie omgesien.
Die ander voertuig se bestuurder het op die toneel geen tekens van enige onmiddellike beserings getoon nie.
Die oorsaak van die ongeluk sal ondersoek word.
Brandbestryders het ook onmiddellik die brandgevaar van beide voertuie aangespreek deur onder meer die batterye te ontkoppel.
Die botsing tussen twee voertuie in spitstyd vanmiddag het verkeer op Louis Fourieweg by die toegang na Danabaai ontwrig.
Een van die motoriste is per ambulans na 'n plaaslike hospitaal geneem. Die aard van sy beserings is onbekend.
Brandbestryders het baie gou die brandgevaar van die twee voertuie aangespreek deur onder meer die batterye te ontkoppel.
Op die ongelukstoneel vanmiddag.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'