MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit het onlangs amptelik die speelgoedbiblioteek by die Thusong-sentrumbiblioteek oorgeneem. Die inisiatief was vantevore deur Wes-Kaap provinsie se maatskaplike dienste hanteer, maar sal nou deur Mosselbaai-munisipaliteit bestuur en bevorder word.
Die speelgoedbiblioteek bied kleuterskole hulpbronne waartoe hulle andersins nie toegang sou hê nie sodat kinders die basiese vroeë kinderontwikkeling (ECD)-kurrikulum kan aanleer.
Volgens Una Pietersen, maatskaplike werker van die Wes-Kaapse Provinsie, is die inisiatief geloods nadat die behoefte aan hulpbronne in die gemeenskap geïndentifiseer is.
“Daar is baie ongeregistreerde skooltjies wat ons probeer help om te registreer. Hierdie kinders moet steeds geskool word, en dis waarom ons die inisiatief van die gestruktureerde speelgoedbiblioteek begin het. Hierdeur word hulpbronne en spasie (in die biblioteek) aan almal beskikbaar gestel.
"Die speelgoedbiblioteek is 'n baie effektiewe manier om skooltjies, leerkragte en leerders te help. So kan ons hulle blootstel aan die hulpbronne en 'n omgewing wat hulle opvoeding kan bevorder, want kinders leer mos deur te speel.”
Pietersen het bygevoeg: “Ons gee alles oor aan die munisipaliteit, hou die fokus en laat dit voortleef want dit bevorder Mosselbaai se gemeenskappe. Dankie vir die bereidwilligheid om die speelgoedbiblioteek oor te neem."
Lucinda Piedt, ‘n maatskaplike werker verbonde aan Mosselbaai-munisipaliteit is opgewonde oor die projek en meen dit kan nog heelwat uitgebrei tot voordeel van gemeenskappe in die groter Mosselbaai. Sy sê die speelgoedbiblioteek sal voortaan deur 'n EPWP-werker en ‘n intern hanteer word en skole is welkom om enige tyd en soos nodig van die hulpbronne gebruik te maak.
Erelene Prinsloo, hoof van 7de Laan-kleuterskool, sê hulle is baie bly oor die speelgoedbiblioteek. Sy meen die kinders sal beslis baat by die inisiatief.
“Ons kan die speelgoed uitneem en gebruik om aan te gaan met ons kurrikulum. Baie van ons kinders was ook nog nooit blootgestel aan ‘n biblioteek nie, maar nou is hulle baie opgewonde as dit biblioteektyd is. Hulle weet ook reeds dat hulle stil en rustig moet wees in ‘n biblioteek. So hulle leer beslis deur hierdie inisiatief.”
Kontak die maatskaplike dienste (044 606 5000) met navrae.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'