MOSSELBAAI NUUS - Dit is duidelik dat die diensingesteldheid waarmee Mosselbaai-munisipaliteit vereenselwig word, ook te danke is aan leiers wat nie huiwer om self moue op te rol en saam te werk nie.
Onlangs het die speaker, raadsheer Petru Terblanche se vrou 'n rit op die gewilde Diaz Express meegemaak.
Sy was teleurgesteld om te sien hoe onnet die omgewing langs en op die spoor voorkom.
Na 'n gesprek met raadsheer Terblanche, wat ook die wyksraadslid is vir die Dias-area, is besluit om self skouer aan die wiel te sit en 'n opruimaksie is van stapel gestuur.
"Die treinspoor behoort nie aan die munisipaliteit nie, daarom is lede van die Demokratiese Alliansie (DA) gevra om te help met die skoonmaak van die area waardeur die Diaz Express tydens die feesseisoen gaan ry.
"Honderde vakansiegangers gaan die treinspoor gebruik en 'n vuil spoorlyn is nie bevorderlik vir toerisme of ekonomiese ontwikkeling nie," aldus raadsheer Terblanche.
Die span was skoongemaak het.
Hy, sy span en verteenwoordigers van die Diaz Express het die treinspoor tussen Diasstrand en Hartenbos met swart sakke in die hand platgeloop en sover moontlik die rommel opgetel en verwyder.
ARTIKEL & FOTO: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'