MOSSELBAAI NUUS - Terwyl hulle eintlik nog in die wittebroodfase van hulle huwelik behoort te wees, is 'n paartjie van Mosselbaai sedert April besig om moue op te rol vir ander se voedselsekerheid.
Michelle en Rudi Saayman, ofte wel Team Saayman is op 1 Februarie getroud. Op 5 April vanjaar het hulle met vyf kospakkies begin wat hulle aan mense in nood uitgedeel het. Tans versprei hulle, danksy die steun van hulle gemeenskapsnetwerk van familie, vriende en kennisse, 300 kospakkies.
Michelle is ook besig met 'n projek van haar eie sedert die skole op 1 Junie heropen het waarin sy flesse vol sopmengsel by skole versprei. Sedertdien het sy reeds 500 flesse by plaaslike skole uitgedeel as deel van haar Jar of Hope-projek.
Tydens 'n videoboodskap op sosiale media, het dié twee verlede week verduidelik waar dit als begin het. Die video met Rudi aan die woord, het tot op hede 1 900 trefslae gehad.
In die video vertel hy van sy persoonlike reis. Hy verduidelik dat hyself lank op straat geleef het en 'n dwelmhandelaar was voor sy lewe weer op koers gekom het deur aan te sluit by Youth With A Mission (YWAM). Hy het sendingwerk in Madagaskar en Mauritius verrig.
"Ek het belowe dat as dit eendag weer met my goed gaan, ek aan mense wil teruggee. Ek het mense se geld gevat, soos pa's wat moes huis toe gaan, maar wat hulle geld vir my gegee het om dwelms te koop."
Toe hy in 2017 na Mosselbaai terugkeer, vertel hy, het God aan hom gewys dat sy sendingveld onder haweloses is. Sedertdien werk hy by The Haven-nagskuiling. Michelle, aan wie Rudi sedert 2017 verloof is, het inspirasie geput uit sy lewensverhaal en Team Saayman is uiteindelik hieruit gebore.
Weet hoe dit voel
Rudi vertel dat hy weet hoe dit voel om vir iemand te wag om vir jou iets te ete te bring en in ander se oë te kyk vir 'n bord kos. "Ek wil net hê met dit wat ons doen, moet ons iemand se antwoord op gebed wees."
Team Saayman staan vas daarby dat hulle nie applous of eer soek nie. "As dit daaroor gaan, hou ons dadelik op. Ons gee en sal aanhou gee, selfs al is ons eie kaste leeg, want ons glo - we can't out give God."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'