Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Wat gedurende Mei begin het as 'n soektog na hul diabeet-kat wat hou van "bene gaan rek buite", het 'n gesin van 21ste Laan van Mosselbaai op 'n grysbokkie laat afkom.
Van daar is 'n kleinskaalse reddingsoperasie geloods wat Steve D'Elboux en sy gesin, Carlo van Tonder (Cape Nature) en wildveearts, dr Willem Burger, ingesluit het.
"My vrou Nadia se kat is 'n diabeet en moet twee keer 'n dag ingespuit word. Sy het vir hom 'n GPS-bandjie gekoop omdat hy lief is daarvoor om bene te gaan rek buite in die erf. Hy was die oggend laat vir sy inspuiting en ons het hom gaan soek.
"Terwyl ons hom in die oop erf langs ons gaan soek het, het ek die grysbokkie onder 'n melkhoutboom gesien."
Na 'n rukkie se soek het hulle op Van Tonder se kontakbesonderhede afgekom.
"Hy het die gevaar van honde en voertuie gesien en dr Burger gekontak om te kom help. Hulle was spoedig daar en kon bevestig dat die bokkie gesond lyk. Die rammetjie is bitter vinnig deur dr Burger onder verdowing geplaas en na 'n paar minute was hy in 'n krat gelaai om hom op die Mosselbaai Gholf Landgoed te gaan vrylaat."
Video: Die grysbokkie word vrygelaat
Steve het Van Tonder bedank vir sy spoedige optrede om die bokkie op 'n veilige plek vry te laat en ook dr Burger wat sy tyd opgeoffer het om hulle by te staan.
Hy sê dr Burger het nie net sy tyd opgeoffer nie, maar was ook bereid om hul kinders te betrek by die "wonderlike gebeurtenis".
Klein Anthony en Miné D'Elboux help vir dr Burger met die hervestiging.
Dokter Burger verduidelik hoekom hy bereid was om die kinders te betrek: "Kinders word in 'n baie vroeë stadium in hul lewe beïnvloed deur hul blootstelling aan die natuur. Dié blootstelling bepaal hul toekomstige benadering tot bewaring. Dus verwelkom ons kinders by soortgelyke blootstellings waar dit moontlik is."
Dokter Burger het die verskuiwing op sy eie koste en as bydra tot bewaring gedoen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’