MOSSELBAAI NUUS - Polemiek heers reeds 'n geruime tyd oor die gebruik van die Souwesia-strandgebied gedurende die 2020/2021-somervakansie.
Op Woensdagaand, 25 November is 'n gemeenskapsvergadering op Groot-Brakrivier oor dié voortslepende kwessie gehou. Die vergadering is deur raadslede Dawid Kamfer, Anton Dellemijn en Annatjie Janse van Rensburg bygewoon.
Na kennisname van die Souwesia-kwessie, het die Mosselbaai-munisipaliteit se volle munisipale raad vandag, Donderdag, 26 November hieroor 'n besluit geneem.
Tydens die maandelikse raadsvergadering, is goedkeuring verleen dat die tradisionele Souwesia-kampeerterrein tussen 08:00 en 22:00 vanaf 8 Desember 2020 tot 8 Januarie 2021 as 'n tydelike kampterrein vir dagkampering gebruik word. Boonop sal oornagkampeerders op 31 Desember 2020, 1 Januarie 2021 en 2 Januarie 2021 op die perseel kan oornag.
Die besluit volg nadat raadslid Cliffie Bayman 'n mosie van dringendheid gedien het, wat eenparig deur die raad aanvaar is.
In sy voorlegging, het Bayman gesê dat daar nooit enige aandrang was dat die gebruik om oor te slaap voorkom of gestaak moet word nie, maar dat dit dringend oorweeg moes word in ag genome die drastiese toename in Covid-19 aktiewe gevalle in die Tuinroete. Die besluit om steeds die oornagverblyf toe te laat spruit uit die goeie verhoudinge met die Souwesia-komitee.
Tydens gister se raadsvergadering, het Kamfer sy dank uitgespreek teenoor Dellemijn en Janse van Rensburg vir die gees waarin die gemeenskapsver-gadering op Woensdagaand plaasgevind het. "As dit die wyse is waarop gemeenskapverga-derings sal plaasvind, is daar hoop vir ons gemeenskap," het Kamfer gesê.
Die raad het die munisipale bestuurder, advokaat Thys Giliomee, gedelegeerde bevoegdheid gegee om die nodige tydelike infrastruktuur en dienste goed te keur om die daggeriewe en oornagkampgeriewe op die Souwesiaterrein moontlik te maak.
Die gemeenskap het vanjaar weer die munisipaliteit genader om die fasiliteit beskikbaar te stel as 'n tydelike kampterrein en om so die druk op Suiderkruis-dagkampfasiliteit te verlig.
Soos met vorige jare, sal die munisipaliteit tydelike infrastruktuur voorsien, onder meer watervoorsiening, afvalbestuur en kleiner vullishouers, beligting waar moontlik, vullissakke en chemiese toilette. Die toilette en skips sal gereeld skoongemaak word.
Verlede jaar het die munisipaliteit geen probleme met die oornagkampeerders ondervind nie en danksy die goeie betrekkinge tussen die Souwesia-komitee en die gemeenskap, sal die munisipaliteit weer van die fasiliteite beskikbaar maak vir gratis oornagverblyf.
Strandgangers en kampeerders word egter vermaan oor die gevare van die verspreiding van Covid-19. Die relevante en nodige aanwysings sal op die terrein aangebring word.
Na etlike vrae oor Souwesia-strand se kampeergeriewe is 'n tydelike vergunning tydens die raadsvergadering gemaak. Foto: Louise Karsten
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'